#69 – Annelie Rabie

#69 – Annelie Rabie

Menlopark Laerskool-dae was vir my baie lekker en het volgens my herinnering hoofsaaklik uit spel en sport bestaan. Regdeur my skoolloopbaan het ek sport (hoofsaaklik swem en hokkie) beoefen en hulle het later besluit om my in provinsiale spanne toe te laat. Ons swemspan was dikwels oor naweke per trein na ander provinsies vir deelname teen ander skole.

Nadat my pa ons verlaat het, was ek meer dikwels in ’n droomwêreld as vroeër en het heelwat stiller geword. Ek het besluit om verantwoordelikheid vir my ma te aanvaar en onbewustelik effens onoplettend deur my jongmenslewe gegaan. In nabetragting besef ek my ma het as enkelouer baie moes meet en pas om finansieel te oorleef. Ek het altyd vakansiewerk gedoen vir inkomste. My pa was ’n dosent by UP maar het nooit geld of ondersteuning gebied nie en was vir 35 jaar lank morfien-afhanklik teen pyn.

Dit was wonderlik om saam met familie aan my ma se kant te kuier. Hulle het positiewe projekte aangepak en voltooi. Moontlik was dit die invloed van my chirurg-oupa, dr. Goedhard, se gene – baie van hulle is ingenieurs, spesialiste, dokumentêre skrywers, argitekte of kunstenaars. My pa se familie het ook kunstenaars gehad, soos die skrywer Jan Rabie en skilder Marjorie Wallace. Louw Rabie het baie geologiese werk in Namibië gedoen. Vorige generasie oupas en oumas aan beide kante was in die veld of kappiekommandos en nie in konsentrasiekampe nie.

Ek het BSc op Tuks gestudeer terwyl ek in die koshuis was en was onseker oor watter rigting. Exploratio-staptoere na verskillende plekke was ’n belewenis: kuslangs vanaf Wildernis oos na Breton-on-Sea, en later van Noetzie na Keurboomstrand. Drakensberge met ’n rugsak, met Langalibalelepas na bo by Giant’s Castle en bolangs tot by Cathedral Peak, was effens uitdagend maar wonderlik. Plantkunde-honneurs het my weereens na die Okavango geneem en ek het groot bewondering vir die natuur waarin ek God se skepping sien

Ek het werk in Stellenbosch gekry en by Landbounavorsing beland. Dit was ’n manswêreld, en slegs mans was afdelingshoofde, het die belangrike projekte gekry,  oorsee gegaan, en was toegelaat om n volwaardige pensioen bydraes te maak. Vrouens was nie toegelaat nie. My verhouding met ’n dosent in Rekenaarswetenskap was betekenisvol, maar sy besonderse besitlikheid het my afgeskrik en ek het wegbeweeg om vryheid te hê. Ek was effens verveeld met my droogteprojek en het voltyds medies by Tygerberg gaan studeer.

Ek het ’n oordeelsfout gemaak om myself te probeer befonds (soos ek meestal moes doen) met die bietjie pensioen wat ek oor drie jaar opgebou het. Tydens my kliniese jare het ek ontdek dat ek nie bloed kan hanteer nie, het nie meer geld gehad nie en moes noodgedwonge terug na Landbou om skuld af te werk. Ek het steeds besondere waardering vir menslike fisiologie, en later ook vir energievelde soos dit in kwantumfisika en meridiane voorkom. Hierdie bioenergie beïnvloed mitochondriale werking en kan tot n magdom siektes lei. Ek het met die Scio gewerk met quantum energievelde wat in wansbalans is te balanseer en dit gebruik alle modaliteite. Ek glo dat Rife, Scio en ander frekwensies heelwat gesondheidsprobleme kan oplos.

Nou, ná aftree-ouderdom, sien ek dat IT ongeveer 10 keer meer as Landbou betaal, en wens ek het vroeër in my lewe die vryheid en geleentheid gehad om daardie rigting in te slaan.

In die Kaap het ek saam met die Voetslaanklub die Kaapse berge verken en in ’n fietsrygroep geoefen en aan die Argus deelgeneem.

Op 39 is ek gediagnoseer met outo-immuun erosiewe rumatoïede artritis (RA). Ek het aanvanklik geweier om die diagnose te aanvaar en aangehou draf omdat ek baie fiks was. Dit het my egter ’n bewussynsverskuiwing gegee (uitpass, maar op voete bly), en ek moes leer om sport, fietsry, draf, bergklim – al my geliefde aktiwiteite – prys te gee en pyn te respekteer. Ek het baie dinge probeer om gesond te word, maar het nou uiteindelik vrede gemaak (ook met vervorming van ledemate) dat daar nog nie n oplossing vir die oorsaak daarvan bestaan nie. Mens raak meer filosofies oor die lewe – want dis ’n groet aan baie dinge waarvan mens gehou het (soos in verre pensioenarisouderdom 😂).

Rondom 1998 het die LNR baie gerasionaliseer en ek het gekies om ’n pensioenpakket te neem en terug te trek na Pretoria. In totaal het ek 18 jaar by Landbou in die Kaap betrokke gewees. Met ’n derde van my pensioen het ek ’n klein tweede woonhuis op my ma se eiendom gebou – op ’n kwart van ’n burgererf wat sy aan my geskenk het. Ek het by Farmakologie en Plantkunde aan navorsingsprojekte gewerk en deeltyds by SAHPRA betrokke geraak as ’n Medicines Officer vir komplimentêre medisyne. Ingesluit by my werk was om ’n PhD in Farmakologie te voltooi – ’n kwalifikasie wat baie teoreties is en hoofsaaklik klasgee as werksgeleentheid bied.

Energie tydens outo-immuniteit is soms BAIE beperkend, maar ’n mens kan meestal sonder pyn leef met hoe jy oor dinge dink, en deur self kreatiewe oplossings te vind wat by plaksak pas. Ek het afsonderlik vir my pa en ma gesorg tydens hul metastatiese kanker en mis my ma steeds geweldig baie…  

Ek woon huidig weer in Menlopark en is besig om my ma se boedeleiendom – waarvan my huis deel uitmaak – in stand te hou. Ek oorleef deur bachelors-woonstelletjies aan my huis te verhuur. My pensioen van Landbou is nie genoeg om van te oorleef nie.

Die mees ontstellende ervaring in my lewe ooit is dat my sibling, ná my ma se dood in 2017, besluit het om my met uitsetting te dagvaar, my as leuenaar by familie en Meester te verklaar en haar prokureur het onwaarhede op rekord by die Meester geplaas. Ek is met intimidasie as eksekuteur vervang en die assistent-Meester het buite sy jurisdiksie opgetree, terwyl daar ’n aanvaarde testament bestaan het, en ek nie skuldig was aan enige aanklagte nie. Ek kon myself nie verdedig nie. Al my geld is deur verdediging geneem, en ek kon hierdie nog nie oplos nie. Ek sal moontlik by die Legal Council om hulp aanklop, maar dit neem energie en vererger RA. Ek glo dat God omstandighede so kan draai as om n oplossing te bring.

Ek vind soms energie om die boedelhuis geleidelik leeg te maak vir verhuring. Ek het ’n jong Malawier in diens wat ook by bure werk. Ek het hom opgelei om sinkplaate teen roes te behandel, mure netjies te verf en verskeie ander vaardighede. Ek het meeste van die onderhoudskills self aangeleer en leer dit ook vir hom.

Wanneer my energie toelaat, leer ek deeltyds boekhou deur Alison, en het by ’n IT-konsultant ISO-inligtingsekuriteit aangeleer. Ek het ’n aktuariële maatskappy gehelp om sertifisering te ontvang. Daarna het ek medical device auditing aangeleer, maar is nie daarvoor vergoed nie en is tans sonder ’n salarissie.

Twee wonderlike vakansieplekke van die verlede wat ek jaarliks probeer besoek, is ’n hout log cabin in die Sentrale Drakensberge wat my oupa opgerig het, en by Eersterivierstrand (Tsitsikamma). My oorlewingsstrategie is om positief te bly en aan te hou probeer wanneer ek energie het – andersins laat ek myself toe om te rus. Vriendskappe is vir my betekenisvol en motiverend om aan te hou – want ek het nie meer familie nie.

“Ek kyk terug op ’n lewe met kronkels, storms en verrassings, maar ook met ligpunte, wysheid, en diepe waardering vir dit wat nie met geld gemeet kan word nie. En ek glo die pad vorentoe kan oop bly, solank ’n mens die vermoë het om met hoop en moed op te daag. My kleinkind-katte help my baie met hierdie aspek.”

Aan almal van julle – waardering en voorspoed.