’n Kort terugblik op my lewenspad.
Vir dié van julle wat dalk nie weet nie – ek en Jan is nie bloedverwante broer en suster nie. Ek is gebore in Otjiwarongo, Namibië. Toe ek vyf weke oud was, het my ma ernstig siek geword. Haar broer het haar in die hospitaal kom besoek, en sy het hom gevra om my aan te neem. Hy en sy vrou het reeds ‘n seuntjie van twaalf weke oud gehad – Jan. My nuwe pa het my Pretoria toe gevlieg, en ek en Jan het soos ’n tweeling saam grootgeword. Ons het ’n besondere hegte band gevorm.
Jan het later saam met Stella en Deon Eksteen medies gaan studeer en het gekwalifiseer as narkotiseur. Hy het getrou met Ina, en hulle het drie seuns gehad. Ongelukkig is Jan tragies oorlede toe sy jongste seun skaars twee jaar oud was – op die ouderdom van net 37. Vandag is sy seuns gevestig in hul onderskeie beroepe: ’n bedryfsingenieur, ’n mediese dokter en ’n bourekenaar. Al drie is getroud, en Jan sou nou ’n baie trotse oupa gewees het van ’n pasgebore kleinseun.
Van ons skooldae onthou ek vir Jan as ’n uitstekende atleet wat groot bydraes gelewer het tot ons sukses by die Appel-atletiekbyeenkomste. Ek was altyd baie trots op hom. Netbal was vir my ’n hoogtepunt wat sport aanbetref – ek het saam met Era, Nuts en Barbara die netbal altyd baie geniet.
Ek onthou ook een dag toe Stella nie by die skool was nie, en ek besluit het om ook huis toe te gaan. Mnr. van der Linde het my egter langs die pad met sy groot motorfiets gestop en teruggestuur skool toe. Hy het toe in ons klas ingekom, en Mnr. Roux het grappenderwys vir hom gesê: “Jy los my meisiekinders uit!” Daar het hy toe druipstert die klas verlaat!
Een van my sterker herinneringe is toe Mnr. Snyman een van die seuns met die bordpasser ses houe geslaan het voor almal in die klas. Ek het opgestaan en gesê ek hou nie daarvan nie. Hy sê toe as ek nie daarvan hou nie, moet ek uit die klas uit gaan. Ek het my tas gevat en uit die klas geloop. My suster, Juffrou Stoop, wat ook daar skoolgehou het, het daarvan te hore gekom dat ek buite die klas sit, en my laat roep. Die uiteinde van die saak was dat die onderhoof, Mnr. Schröder, my met ’n briefie teruggestuur het, en Mnr. Snyman my in sy klas moes terugtoelaat. Ek kan nie onthou dat hy ooit weer iemand in ons klas geslaan het daarna nie.

Ek het my hoërskooldae regtig baie geniet. Ek en Stella was onafskeidbaar – van al die kuiers by Plankie se huis tot die reël van die matriekafskeid toe ons nog in standerd 9 was. Die 40 Days, die lag, die saamwees – dis alles tye wat ek met graagte sou herleef. As ek kon, sou ek sonder twyfel my standerd 9- en 10-jaar weer wou beleef – saam met elkeen van julle.
Ek het ná skool by Tukkies gaan studeer en ’n BSc Huishoudkunde Ed voltooi. Ek, Stella en Plankie was saam op universiteit en het wonderlike tye gedeel. Ek het vir drie jaar skoolgehou en was bevoorreg om in die vroeë 1980’s as die eerste blanke onderwyseres by die hoërskool in Eersterust aangestel te word. Dit was ’n onvergeetlike ervaring.
In 1980 het ek met Louis van der Merwe getrou – ’n meganiese ingenieur wat tot vandag toe nog enkelsitplek-renmotors jaag.
Ons oudste seun is in 1983 gebore. Ek het drie ‘beplande’ kinders binne drie jaar en drie maande gehad. My oudste seun het ’n graad in rekenaarstudie by Tukkies gedoen en is ’n sagteware-ontwikkelaar. Hy woon saam met sy vrou en drie kinders al vir die afgelope vyf jaar in Nederland. My tweede seun is ’n advokaat, getroud en woon in Menlopark. My dogter is ’n ouditeur met haar eie praktyk in Pretoria. Ek is baie betrokke in haar twee seuns se lewens – veral met skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite – en ek geniet hulle baie.



Terwyl my kinders klein was, het ek op groot skaal kindersweetpakke gemaak met behulp van stiksters en ook naaldwerkklasse gegee.
Sedert 1992 het ek verskeie besighede begin en op ’n stadium drie gelyktydig bedryf. Ek het vier dierewinkels met hondesalonne gestig, asook ’n Dream Nails-franchise. Die hondesake was in Elarduspark-winkelsentrum, Monument-winkelsentrum, Pierre van Reyneveld, en een by Vetland Animal Hospital. Al die ondernemings is later verkoop – drie van die dierewinkels bestaan vandag nog. Die afgelope 25 jaar teel ek net Yorkshire Terriers. My lyne is baie gesog en van ’n baie hoë standaard.

Hier is ’n foto van ’n hondjie wat ek aan die begin van die jaar na Switserland gestuur het vir ’n ou kliënt van my. Die hondjie moes nege maande hier bly voordat sy kon gaan, volgens die EU se reëls.
Ons woon al 21 jaar op ’n plot in die ooste van Pretoria. Ek sien baie uit na die reünie, want dis die naaste aan ‘time travel’ wat ’n mens kan beleef!