Na voltooiing van my Ingenieursgraad in 1980 was ek gelukkig om ‘n inname vir diensplig by die SA Vloot te kry. Ek is uitgeplaas na ‘n klein radiostasie by die Rooikop Lugmagbasis naby Walvisbaai, waar ek die destydse SWA Weskus goed kon leer ken. Sedertdien het ons verskeie vakansies met die familie na Namibië onderneem, tot so ver as die Kunene-rivier in die Noorde, destyds nog sonder ‘n GPS en net met ‘n kaart met minimum inligting!
Na afloop van my diensplig het ek my beursverpligting by die ou SA Spoorweë voltooi. Die lang afstande se reis het my nie meer aangestaan nie, en ek het aansoek gedoen by die vorige Centurion Stadsraad vir ‘n pos in die Water- en Sanitasie-afdeling. Die dorpsbeplanning en -ontwikkeling was vir my interessant, en ek het nagraads by UNISA studeer in Publieke Administrasie, en ook later ‘n Senior Bestuursertifikaat by TUT voltooi. Ek was ook bevoorreg om verskeie studietoere en konferensies oor watersuiwering en distribusie in Europa, Engeland, Australië en Nieu-Seeland by te woon. Die politieke verwikkelinge in plaaslike owerhede het my later jare meer besig begin hou en is ek eers na die Metropolitaanse Oorgangsraad en later by Tshwane Munisipaliteit werksaam, waarna ek in 2022 uitgetree het.
Intussen is ek in 1987 met ‘n bibliotekaresse getroud. Ons het twee seuns, albei getroud, en een kleindogter van amper 4 jaar oud, wie ons baie geniet. Aangesien ek genoeg van hardloop op skool gehad het, het my vrou, Christa, die gewoonte voortgesit. Sy het reeds 12 Comrades marathons voltooi en ek vergesel haar na ultra- en ‘Trail-Run’ wedlope orals in die land – die SA Meesters Atletiek Kampioenskap vind hierdie jaar in Mei in Oudtshoorn plaas, vir die wat belangstel!
Na my aftrede hou ek my graag besig met genealogiese navorsing. Die Hugenote Vereniging van SA het my boek oor die Mouton-familiegeskiedenis en stamboom gepubliseer, en die boek is by die Hugenote Museum in Franschhoek, asook oor die internet, beskikbaar.
As familie het ons gereeld karavaanvakansies by die Kaapse kus geniet. Na my aftrede besoek ons graag die Wilde Kus in die Oos-Kaap, waar ons tyddeel-akkommodasie het. Hier stap vee langs die paaie en die huise, en ‘n mens word oorweldig deur ‘n gevoel van vreedsaamheid – goeie ontvlugting van die stadslewe!
Baie dankie aan Era, Jan en die span vir al die harde werk en reëlings met die reünie. Ek sien daarna uit om in September weer die ou skoolvriende te ontmoet.
Hiedie reünie word nie deur Menlopark Hoerskool gereël nie, maar deur n groep ’75 Parkies.
Hoofseun/Hoofmeise: Jan Wium en Era (Senekal) Swanepoel Nerine (Le Roux) Ahlers | Japie Bester | Annemarie (Loubser) Boer | Adele (van Biljon) de Klerk Susan (Aucamp) Fourie | Ingrid (Doms) Marais | Ingrid (van Rensburg) Steyn | Stefan Swanepoel Marinda (Du Preez) Venter | Christel (van den Berg) Wood
© 2025 Parkies75 | All Rights Reserved | Last Updated 03/08/2025