Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:28 nm
Skool was vir my ’n wonderlike tyd! My skoolmaats was almal baie spesiaal vir my, en as ek terugdink, wens ek dat ek meer tyd geneem het om hulle beter te leer ken. Netbal en atletiek was ’n groot genot. Ek het ook van swem gehou, maar my pa het gesê ek gaan breë skouers kry as ek swem. Vir ’n meisie wat reeds 1.76 m lank was in standerd 5, het ek besef ek beter maar die swemmery los!
My keuses vir universiteitstudies was óf om ’n tandarts te word óf ’n bourekenaar. Ek het nie veel van laasgenoemde geweet nie, maar volgens die koerante in ons matriekjaar was dit een van die beste betalende beroepe. Jy kon ook van die huis af werk – en voilà, dit was toe my besluit. Dit was ’n uitdagende graad tussen ’n see van manne, maar wie sou kon raai dat ek die liefde van my lewe daar sou ontdek. Stefan en ek ken mekaar al van standerd 2 af, en ons is aan die einde van ons finale jaar studies in 1980 getroud. Twee professionele A+ persoonlikhede – wat ’n kombinasie!
Fast forward ’n paar jaar – met twee seuntjies, toe 8 en 6 jaar oud, besluit ons om die wye wêreld in te vaar. Sak en pak verhuis ons na Amerika. Kalifornië was die plek vir ons. Stefan was uiters suksesvol in die bou van verskeie maatskappye – hy het letterlik sy alie afgewerk! Ek het probeer aanpas in hierdie vreemde nuwe wêreld. Alles was anders, maar dit het ons grootste avontuur geword!
Ons kinders het gefloreer. Hulle het universiteit toe gegaan en grade in lugvaartingenieurswese, meganiese ingenieurswese, tegnologie, en ’n MBA verwerf. Hulle is Engels, Spaans én Afrikaans magtig – en ja, ons praat steeds elke dag Afrikaans by die huis.
Ek het werk gekry in Los Angeles as bourekenaar en het my laaste 10 jaar voor aftrede in 2019 as Hoofbourekenaar op die John Wayne-lughawe in Kalifornië deurgebring. Met ons kinders wat nou getroud is en my aftrede, het ons besluit om ons droomhuis in Hawaii te bou en is ons net voor COVID na Kauai verhuis. Die afgelope vyf jaar is ons geseën met vier kleinkinders – twee seuntjies en twee dogtertjies.
Nou reis ons die wêreld vol, kuier baie by ons kinders en kleinkinders, en hoop om hierdie jaar die beste reünie vir ons klasmaats te reël. Ons sien so uit om almal weer te sien! Om te sê ons is geseënd, is ’n understatement – en ons besef dit elke dag. Daar is so verskriklik baie waarvoor ons dankbaar is!!!
Hiedie reünie word nie deur Menlopark Hoërskool gereël nie, maar deur n groep ’75 Parkies. Kontak ons by 1975parkiematrieks@gmail.com
Hoofseun/Hoofmeise: Jan Wium en Era (Senekal) Swanepoel Nerine (Le Roux) Ahlers | Japie Bester | Annemarie (Loubser) Boer | Adele (van Biljon) de Klerk Susan (Aucamp) Fourie | Ingrid (Doms) Marais | Ingrid (van Rensburg) Steyn | Stefan Swanepoel Marinda (Du Preez) Venter | Christel (van den Berg) Wood
© 2025 Parkies75 | All Rights Reserved | Last Updated 03/08/2025