#18 ~ Susan (Brink) Coetzee (Nampie)

#18 ~ Susan (Brink) Coetzee (Nampie)

Ek het sedert matriek my hele lewe in Pretoria gebly. Ná skool het ek by Tuks gaan studeer—BAEd, wat destyds ’n redelik nuwe graadkursus was. In my Honneurs-jaar het ek my man, Vincent, by die Geografie-departement ontmoet, waar ek gewerk en studeer het, terwyl hy ’n derdejaarstudent was. Hy was in die polisie vir sy diensplig… so ja! Ek het my BA in manvang met vlieënde vaandels geslaag!

Ons is in 1983 getroud vanuit die Lynnwood-gemeente, waar oom Koos van Zyl (Bertus, Ebben en Adriaan van Zyl se pa en ’n huisvriend van ons) die plegtigheid waargeneem het.

Ek het aan en af skoolgehou vanaf 1981, twee kinders grootgemaak en in 1996 die onderwys finaal vaarwel toegeroep toe my man sy eie rekenaaronderneming vanuit ons huis begin het. Ek het toe vir hom gehelp, die kinders grootgemaak en rondgery… en toe hulle in die hoërskool was, weer begin aflos by skole.

Ons woon al die afgelope 26 jaar in Woodhill Golf Estate en, behalwe vir Ingrid (Doms) Marais, het ek min kontak met ons matriekgroep gehad. Vir ’n rukkie het ek Ferdie Kriek nog gesien, want ons was bure in Lynnwood, maar hy is ongelukkig tragies oorlede.

 

Ek is nie op Facebook nie, en daarom weet ek maar min van die oud-Parkies!

My sussie, Christien, wat net ’n jaar ouer as ek is, het baie meer kontak met van ons oudskoolmaats, en so het sy my al na ’n paar van hulle informele matriek-kuiers saamgesleep!

Ek sien baie uit daarna om almal weer te sien! Ingrid (van Rensburg) en Plankie het my onlangs gekontak—en dit is asof die jare net wegval wanneer ons gesels! Hoop julle voorsien vir ons naamplaatjies… net om verwarring te voorkom! 😄

Mooi bly en sien mekaar binnekort!

NS – Baie belangrik: Ons is Oupa en Ouma van twee pragtige kleinkinders