Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:34 nm
Die Toe:
Pretoria, 1975. Nes julle almal, die laaste jaar van skool en Parkie-wees – die afsluiting van die eerste fase van die lewe. Die laaste sorgvrye jollery, uitsien na die vryheid en opwinding van grootmenswees, maar tog met ‘n paar skoenlappers oor wat om te studeer en wat die toekoms inhou.
Die Nou:
Kaapstad, 2025 – meer spesifiek die Helderberg. Ek het my eerste voet in Kaapstad self neergesit in 2009, en daarna geleidelik meer tyd hier spandeer. In 2021, na die einde van my korporatiewe lewe, het ek finaal in Somerset-Wes gesettle. Ek hou myself op deeltydse basis besig met bestuurs- en strategiese konsultasie en help twee Europese maatskappye om besigheid te doen in Afrika. Andersins probeer ek so gereeld as moontlik nuwe dinge doen wat ek nog nooit tevore gedoen het nie – party is sommer eenvoudige dinge. Ek leer om die kookkuns te bemeester en het so suksesvol geraak dat ek verdubbel het in grootte sedert my skooldae 😊. Het ook begin hou van sommige klassieke musiek (Ingrid, Stella, Wanda en Deon, darem nie so ernstig soos die soort wat Mnr. Raubenheimer in die Landie in Okavango gespeel het nie 😊) en reis steeds waar moontlik en mis die bos. Ek besoek dit gereeld en het Namibië ontdek en leer liefhê.
Ek is nooit getroud nie, ten spyte van ‘n paar amper-suksesvolle probeerslae – heeltemal te veel van ‘n alleenloper. Dus geen kleinkinders nie, net ’n aangenome seun.
Die Tussenin:
Na skool het ek Elektroniese Ingenieurswese by Tukkies studeer. Dit was intensiewe studies sonder breekperiodes, maar ek het steeds tyd gemaak vir ’n bietjie speel, Jool en liefde tussenin.
Ek onthou ’n epiese tog saam met Calie en Johann Ahlers in sy Austin, vanaf Pretoria na Stellenbosch vir ’n Maties Intervarsity. ’n Hoogtepunt was ook om Anneline Kriel te ontmoet en ’n drukkie te gee by ’n Ingenieurs Koningin-funksie.
Na my studies het ek twee verpligte jare in die Lugmag gedien. Hoewel dit soms uitdagend was, is daar darem goeie herinneringe ook. My eerste werk was by Kentron in die lugvaartbedryf, spesifiek missielontwikkeling. Die “rocket science” was uitdagend, maar ek kon nie te lank in ’n kantoor somme maak nie. Ek het te veel van menslike interaksie gehou. Ek het ’n MBA by Tuks (nou GIBS) voltooi en toe na tegniese bemarking en bestuur oorgeskakel, wat gelei het tot baie wêreldreise oor vyf kontinente. Dit was soms uitputtend, maar wonderlik om nuwe mense, plekke, kulture en selfs tale te leer ken.
Die grootste hoogtepunt was om ’n missielkontrak aan Finland onder die Franse se neuse weg te raap en dit te vier met ’n sneeumotorfietsrit noord van die poolsirkel!
Later het die BEE by ’n semistaatsorganisasie te veel geword, en ek het in my middel-40’s oorgeskakel na die privaatsektor. Ek het by ’n vervaardigingsmaatskappy aangesluit wat deel was van ’n genoteerde groep. Ek moes my finansiële kennis opskerp, leer om hard te wees en tonne stres hanteer. Toe my baas afgedank is, moes ek die leisels oorneem. Ek het oorleef en die besigheids-rollercoaster so goed moontlik gehanteer.
Daar was vele suksesse en mislukkings. Ek het weer baie gereis, meer in Afrika hierdie keer. Dit was soms rof, maar ek het die geluk gehad om ’n blou marlyn naby Mauritius in die diepsee te vang. Party van my vissermanvriende haat my nog steeds daaroor!
Laastens:
Ek hoop so veel as moontlik skoolmaats woon die reünie by. Tyd en ouderdom is die groot gelykmaker, en niemand hoef meer enigiets te bewys nie. Kom asseblief – dit sal lekker wees om oor die ou dae te gesels en drade weer op te tel!
Hiedie reünie word nie deur Menlopark Hoërskool gereël nie, maar deur n groep ’75 Parkies. Kontak ons by 1975parkiematrieks@gmail.com
Hoofseun/Hoofmeise: Jan Wium en Era (Senekal) Swanepoel Nerine (Le Roux) Ahlers | Japie Bester | Annemarie (Loubser) Boer | Adele (van Biljon) de Klerk Susan (Aucamp) Fourie | Ingrid (Doms) Marais | Ingrid (van Rensburg) Steyn | Stefan Swanepoel Marinda (Du Preez) Venter | Christel (van den Berg) Wood
© 2025 Parkies75 | All Rights Reserved | Last Updated 03/08/2025