Soos Forrest Gump gesê het: “Life is like a box of chocolates, you never know what you’re going to get.”
My boksie sjokolade het begin by die Jan van Riebeeck-laer in die Kaap. Die Eisteddfod, musiek en kuns was hier net so belangrik soos sport en akademie. Vir sakgeld het ek Die Burger in Kampsbaai afgelewer met my fiets — bult-op, bult-af, somer en winter. Ek het genoeg verdien om my eerste branderplank te koop, en daar is my liefde vir die see gebore. Ná skool was dit reguit strand toe — sorgvrye dae.
Tot my groot skok besluit my ouers om Pretoria toe te trek vir my hoërskooljare. My ma, destyds in Meisies Hoër, wou my Affies toe stuur. Nee, net seuns vir hoërskool kon ek nie doen nie! Die alternatief was Menlopark, en daar was ek tot in 1975 — met ’n mooi klomp dames!
In standerd ses het ek my eerste “sing song” bygewoon, uitgedos in my fynste Kaapse-klere: platformskoene, Oxford-bell-broek (soos David Bowie) en ’n langkraaghemp met rooi nekdoek. Ek het skaars in die vierkant ingeloop, toe tel die matrieks my op en dra my rond tot groot gejuig en wolwefluite. Met ’n rooi gesig het ek besef: lê maar laag en pas in.
In standerd sewe het die gedugte Spooke-Voortrekker-span my gered. As ek reg onthou, het dit bestaan uit Loekie, Jan Viljoen, Marius, Abbot en Bennie. Ons het ’n paar “speed bumps” op ’n kamp beleef toe die Spooke hul sterk kampproviante oorbestee het. Ons is gevang en moes die naweek in konsentrasie deurbring. Mnr. Gilles, die kampbestuurder, het ons persoonlik by ons ouers gaan aflaai — met warm nagevolge.
Swem was ’n groot deel van my tyd by Parkies. Ek het voor skool geoefen, my ontbyt in die klas geëet, en ná skool nog twee ure geoefen. Tydens lang pouse was dit ’n voorreg om Hernoldus Bosman te hoor oefen — hy kon Beethoven se Maanligsonate sonder bladmusiek speel soos ’n ware konsertpianis.
Ná matriek was ek terug see waar ek n duiker in die vloot was. Uit tweehonderd het net agtien die kursus voltooi. My skoolswem het beslis gehelp. Ná diensplig was ek by die SAUK as kameraman, waar ek besef het ek moet oorsee gaan studeer. Ek is Sekunda toe om “Deriks langer en korter te maak” (die ingenieurs sal weet wat dit is). Vryheidsvegters het een van die pyplyne gesaboteer, wat tot groot staking en oproer gelei het. Ek het net betyds weggekom. By nou was daar genoeg geld om Amerika toe te kom.
Met een tas het ek geland by die San Francisco Art Institute, waar ek my BFA in kuns verwerf het, met fotografie en film as hoofvak. Ek het huise skoongemaak, geverf en ’n gebou bestuur as student. Ná my graad het ek na New York getrek, waar die soort dramatiese films wat ek bewonder, gemaak is. Ek het my eerste werk by Neiman Marcus se pelsafdeling gekry, op kommissie, wat my vinnig New York toe gebring het.

My eerste werk in film was as assistent vir Sydney Lumet (Serpico). Ek het my eerste vrou, Ana Roth, op ’n laebegrotingfilm ontmoet wat ek geproduseer het. Ons is in 1987 in Cashel, Ierland getroud. Daarna het ons terug na Suid-Afrika gegaan om twee jaar lank ’n dokumentêre film oor die Himbas in Kaokoland te skiet. By die Cannes-filmfees het ek Stefan se indrukwekkende Ipi Tombi-bemarking gesien, met dansende Zoeloes.
Terug in New York het ek aansoek gedoen vir my meestersgraad in regie aan die American Film Institute. In 1994 het ons na Los Angeles getrek, waar ek my MFA voltooi het. Ons eerste seun, Willem, is gebore. Intussen het ek aan advertensies gewerk (nie my gunsteling nie). Dit vat ook ’n tol op my huwelik in ’97 met lang ure op stelle.
In 2000 het ek besluit om op dramas te fokus en by die kunsdepartement-unie aangesluit op die film Scorpion King. Altyd ’n romantikus, is ek weer getroud — met Kelly Berry, ’n stelversierder. In 2001 is ons tweede seun, Owen, gebore.

Ons werk het ons as gesin regoor die wêreld geneem. Ons was ’n aflosspan — “It is not a vacation, it is a location.” Films waaraan ek gewerk het, sluit in Catch Me If You Can (Spielberg), Seabiscuit, Italian Job, Hidalgo, Aviator (Scorsese), Transformers, Spiderman, ens. Kelly het gewerk aan Expendables 3, Spy, Maze Runner, Scorch Trials, Cast Away, ens.
In 2024 het ons my pa, prof. Willie ONK, op 95 verloor. Elon Gerber was sy student. Ouma Martie (93) en my suster Izelle (’78) met haar man Mike (met Parkinsons) bly in Waterkloof Marina. My broer Jan (’76) bly in Knysna en Wim (’80) in die Kaap.
Kelly en ek vier binnekort ons 25ste huweliksherdenking in Suid-Afrika en sien uit daarna om almal by die reünie te sien.
P.S. Nog geen kleinkinders nie.