Ek onthou my hoërskooljare in Menlopark as avontuurlik, vol pret en dinge. Nou, in die laaste paar weke sedert ek almal se stories gelees het, ook met heimwee. As ek vandag dink hoe die noodlot so ’n groepering van ondeundes saamgegooi het… Ek sou dit vir niks anders in die wêreld wou verruil nie. Ek het vriende gehad in die ’74-, ’75- en ’76-jaargroepe. Unieke karakters, waarvan baie ongelukkig nie meer met ons is nie.
Na matriek is ek na die 4 Artillerie Veldregiment in Potchefstroom waar ek my basiese opleiding ondergaan het. My ouer broer Koos (Menlopark 1971) en my swaer Freddie Strauss (Menlopark 1970) was ook albei artillerie-gunners in Walvisbaai. Ná basies is ek na die Artillerieskool in Potchefstroom vir ’n jaar se opleiding, en ek het aan die einde van 1976 uitgeklaar as tweede luitenant. Vir my kampe is ek ingedeel by 18 Ligte Regiment, ’n nuwe artillerie-eenheid in Randburg. Met die stigting van die eenheid in Januarie 1977 was ons drie offisiere, waarvan ek die junior was.
In 1977 begin ek met ’n BCom (Rek) by Tukkies tot 1979. Ek het dit nooit voltooi nie. Dit het my wel destyds bekommer, maar ek het altyd positief en entoesiasties gebly. Toe ek later in my lewe verskeie bestuursontwikkelingsprogramme voltooi het, het ek die strategie-, leierskap- en bestuursbenaderings daarvan baie geniet.
Terugskouend het hierdie gebeure tot besluite gelei wat my later na Pick n Pay geneem het – my tweede kans in die lewe.
In 1980 en 1981 werk ek by die SA Reserwebank se valutabeheerafdeling. Ons klasmaat, wyle Jacobus Jacobs, se pa, dr. Japie Jacobs, het my aangestel. In die valutabeheerafdeling het ek egter nie baie opwaartse beweging rondom my gesien nie.
Ferdi het voorgestel dat ek die kleinhandel oorweeg. Bewapen onder andere met ’n getuigskrif van my oud-registerklas-onderwyser, mnr. Henk Roux, gaan ek vir ’n onderhoud by Pick n Pay in Maart 1982, en ek kry die werk as leerlingbestuurder. Pick n Pay was toe nog ’n jong maatskappy van net vyftien jaar oud. Ek was op hete kole om aan die gang te kom.
Tydens ’n drie-maande-kamp was daar ’n tragedie, maar ook ’n mylpaal wat my lewe verander het. Daarom hierdie storie. In 1982 word 18 Ligte Regiment oorgeplaas vanaf Randburg na 44 Valskermbrigade by Murrayhill buite Pretoria. Ons word deur die brigadebevelvoerder uitgedaag om die valskermspringkursus by 1 Valskermbataljon te doen. As jy ’n “penguin” wil bly, sal jy uitgeplaas word na ander eenhede. Vyftien manne van ons leiergroep aanvaar die uitdaging. Ons berei vir weke deeglik voor by Murrayhill. Ons kry plekke op die springkursus saam met ’n groot groep dienspligtiges.
Die PT-kursusgedeelte is twee weke lank en dien as siftingsproses. Die Saterdagoggend na die eerste week is ons af vir die naweek en herstel by die offisiersmenasie. Van die vyftien van ons wat begin het, is net ses oor. Net ná seweuur die oggend daag twee somber kapelane op en vra na my. Die hartseer tyding was dat my jonger broer Peet (Menlopark 1980) die vorige nag in ’n motorfietsongeluk gesterf het naby Randfontein, oppad na Pretoria. Hy was besig met sy diensplig in Potchefstroom, ook in die artillerie.
Ek vertrek dadelik huis toe in Pretoria vir die res van die naweek om my ouers te ondersteun. Saam besluit ons dat ek nie moet onttrek van die kursus nie. Die Maandag terug vir die tweede week was ’n moeilike dag. Gelukkig het ek vyf makkers wat ’n ogie gehou het en my deur die dag gekry het. Later, ná agt kwalifiserende spronge en vyf weke op die kursus, ontvang ons ons vleuels tydens ’n parade. Ons het hard gewerk en uitgesien na daardie dag. Dit was ’n mylpaal en ’n goeie oomblik. Die bevelvoerder se uitdaging is verreken en ons kon aanbly by 44 Valskermbrigade.
Teen 1984 bereik 18 Ligte Regiment volsterkte – drie batterye, volledig beman met opgeleide en valskermgekwalifiseerde troepe. Ek was deel van die eenheid sedert sy stigting in 1977. Ek voltooi my burgermagverpligtinge einde 1988 as ’n majoor. My opleiding het my goed voorberei vir die uitdagings van my loopbaan. Vandag behoort ek aan ’n groep van oud “airborne gunners” en ons geniet die vriendskap en kontak met mekaar baie. Ons hou jaarliks ’n reünie sedert 2018 – ons braai en gesels stories oor ons tye saam.
In 1987 verloor ons familie ook ons jongste sussie, Alna – of Tattie soos almal haar genoem het (Menlopark 1983). Sy was ’n vierdejaar-bourekenaarstudent by Tukkies toe sy oorlede is. Weereens was dit ’n bitter hartseer tyd, veral vir my ouers.

Ek ontmoet my vrou Susan kort daarna en ons is in 1993 getroud. In 1994 verwelkom ons vir Christene, en in 1997 vir Kobus. Ek het bietjie later as die meeste getrou, maar het dit des te meer geniet om ’n gesinsman te word.
Ek voltooi drie bestuursontwikkelingsprogramme tussen 1988 en 2004:
Die GIBS-program hierbo genoem is ontwerp deur Sean Summers, ons hoof uitvoerende beampte, in samewerking met prof. Nick Binedell, die stigter van GIBS, uitsluitlik vir Pick n Pay se genomineerde direkteure. Dit het oor twee jaar gestrek met lesings by GIBS in Johannesburg en studietoere na Europa (2003) en Amerika (2004). Sean en Nick het elke jaar saam gereis. Dit was ’n besondere leerervaring en ’n groot voorreg om daaraan deel te neem.
Net om op te som: Tussen 1982 en 1986 het ek opleiding in winkels ondergaan. Van 1986 tot 1998 was ek in aankope in Pretoria en Johannesburg. In 1998 word ek aangestel as plaaslike direkteur en algemene bestuurder (GM) van die Noordelike Streek van Pick n Pay. In 2001 kry ek ook Botswana by.
Net iets oor vakansies toe die kinders klein was: Ek en Susan was nog altyd lief vir kamp en toer. Oor die jare het ons plekke soos Moremi, Caprivi, Chobe, Victoria-waterval, Kaudom, Kaokoland, Kgalagadi en die Richtersveld besoek – om net ’n paar te noem. Ook baie bestemmings in ons eie mooi land. Ek is dankbaar dat my kinders, hopelik as gevolg van hierdie toere, vandag ’n liefde en ’n gevoel vir die natuur het.
Met ons terugkeer van Moremi in Julie 2003 verneem ons van Ferdi se selfdood. Ferdi se droë humor, lekker lag en stories het hom die hart en siel van enige ete of partytjie gemaak. Hy was ’n hoogs intelligente persoon met ’n wonderlike persoonlikheid. Sy tragiese dood het almal wat hom geken het, aansienlik armer gelaat. Ek en Susan hou steeds kontak met sy seun Gustav, nou ’n mediese dokter in Ierland. Gustav is getroud met Emma en hulle het ’n seun, Luc. Gustav is ’n uitstaande jong man, en Ferdi sou baie trots gewees het.

Die Noordelike Streek van Pick n Pay en Botswana behaal goeie resultate, wat my toelaat om in ’n warm stoel vir vyftien jaar te oorleef. Besigheid is ’n spansport, en ek het genoeg tyd gehad om ’n goeie span te bou. Die gedesentraliseerde struktuur van Pick n Pay het my bestuurstyl soos ’n handskoen gepas. Ek het daarvan gehou om my eie ding te doen, en in 2007 word die Voorsitter Meriete-toekenning aan my toegeken. ’n Mens vervul ook ander rolle in ’n korporatiewe loopbaan, soos lone-onderhandelinge. Ek het ook die geleentheid gehad om heelwat te reis na verskeie wêrelddele. Vandag behoort ek aan ’n groep oud-afgetredenes en dit is lekker om kontak te behou en interessante samekomste by te woon. Dit was inspirerend en ek het dit baie geniet om te rapporteer aan ’n visionêre leier soos Sean Summers. Dit was baie opwindend.
Raymond Ackerman het die besigheid in 1967 met drie winkels in Kaapstad begin. Hy was ’n nederige, ernstige man van waardes en wysheid en het onwrikbaar geglo: “Doing good is good business.” Hy het dit elke dag met passie uitgeleef.
Die aantal mense wat hy uit sy eie sak befonds het om te studeer, moet sekerlik in die honderde tel – onopsigtelik, sonder om dit ooit aan ’n groot klok te hang. Dit is een voorbeeld van baie. Hy het ook ruim van sy tyd gegee. Ek het baie daarvan van naby beleef. Dit was ’n groot voorreg in my lewe om hierdie legendariese entrepreneur en filantroop goed te leer ken oor 31 jaar in sy maatskappy. By ons jaareindefunksie in Kaapstad, einde Oktober 2012, is Raymond Ackerman reeds afgetree. Hy is egter steeds die eienaar van die besigheid. Hy ken toe sy “Founder’s Decade Award” aan my toe – die tweede keer wat hy hierdie spesifieke toekenning maak, ná Sean dit in 2002 ontvang het. Dit was ’n groot eer en ’n onvergeetlike aand vir my en Susan.
Kort daarna, in Januarie 2013, word ek 55 en aan die einde van Mei 2013 tree ek af.
En wat doen ons nou? Ons ry nog steeds graag op Botswana en Namibië se grondpaaie en bospaadjies. Ons gunstelingvakansieplek is Swakopmund. Ons beplan aan die groot sprong Kaap toe. Christene werk in Kaapstad en Kobus en sy gesin is hier naby ons in Pretoria. Ons het nou een kleinseun (’n naamgenoot), met ’n tweede, ook ’n seun, oppad in Oktober. My merkwaardige ma is 102 en bly in haar eie huis reg langs ons. Sy is baie gesond en nog helder van verstand. Dit is wonderlik dat sy nog met ons is, en dit is ’n groot voorreg om haar by te staan.
Baie dankie aan ons reëlingskomitee vir al die puik organisasie en kommunikasie. Ek sien uit daarna om almal weer te sien in September.