The Good, The Bad and the Ugly
Sinkplaat en skooldae
Ek’t effens neglected grootgeword in ‘n redelik liberale huis. Beide my ouers het by die Stadsraad van Pretoria gewerk. My ma was ‘n toegewyde gemeenskaps verpleegster. Ek kon vakansies saam na haar werksklinieke by Mamelodi en Atteridgeville gaan, tot dit my verveel en ek haar begin pla het. Dit was vir my normaal om swart en wit verpleegsters te sien saamwerk. Apartheid en rassisme was nie deel van my opvoeding nie. Ek was wel deeglik bewus van ‘klas’ verskille.
My pa was hoof van Behuising by die “shitty council” (sy droë grappie). Ek het op Laerskool Anton van Wouw gou agtergekom “almal” was ryker en slimmer as ek. Toe my pa besef dat ek my middelklas omstandighede negatief met my “adel klas” skoolmaats vergelyk, vat hy my op ‘n toer deur sub ekonomiese woonbuurte en bring ek naweke en vakansies by Bramley Kinderhuis deur.
Ons het sinkplaat dakke in Monumentpark gehad – hy het ons woonbuurt “sinkplaatlaagte” gedoop. Waterkloofrif waar baie van my maats gewoon het, het hy soms (vir my opvoeding doeleindes) “skuldbult” genoem . My pa het nooit gepreek nie – hy’t geglo in ervaringsleer en filosofiese vrae (sonder antwoorde) gevra wat my moes leer dink. Skoolwerk? Onbelangrik vir my ouers. Ek moes my eie gevolge te dra as ek nie wou huiswerk doen of leer nie. My pa het my rapporte geteken, soms met een veelseggende geligte wenkbrou. Sport? Te ver van die skool daarvoor. Ek’t smiddae van blikkieskos geleef en soos ‘n ‘stray cat’ ver gestap om by maatjies (met swembaddens) te gaan kuier. My ouers was uniek maar eers by Voortrekkers het ek besef hoe anders. Ek moes van kleins af self probeer ‘uitfigure’ wat op aarde aangaan, waar ek inpas en wat my lewensdoel is.
(Areaverpligte) Meisieshoër het my lelik ondergekry – dis glo nie “betaamlik vir ‘n jong dame” om byvoorbeeld in die gange te lag, sonder ‘n kêppie gesien te word, of in die ry langs jou lang vriendin (Bibi) op jou tone staan, terwyl jy obviously by die kortetjies hoort nie. Ek het so harassed gevoel dat ek geweier het om terug te gaan.
Gelukkig het my ouers toe maar soggens vir my ‘n ompad gery en is ek standerd agt Menlopark toe – ‘n belegging in my geestesgesondheid. Dis hier waar ek weer begin glo het daar’s hoop vir die wêreld. Meeste om my was vriendelik, intelligent en hardwerkend. Ek kon relax. As ek nou julle stories 50 jaar later lees, lyk dit my ek het julle toe darem reg opgesom.
Vlerke, verlange en tralies
Na skool wou ek Kommunikasiekunde swot maar TUKS het dit nie aangebied nie en ek moes vir my eie studies betaal (het op skool reeds in restaurante en boetieks begin werk). Beroepsleidingskundiges het my wysgemaak dat ‘n BA met tale en Sielkunde as hoofvakke op dieselde neerkom. Nadat ek genoeg vakke vir twee BA grade bymekaargemaak het, besef ek dat dit nie regtig dieselfde as Kommunikasiekunde is nie. Ek doen toe maar saam met ‘almal’ aansoek vir Sielkunde-honneurs en was verras toe ek ‘by default’ een van 25 studente was wat keuring gekry het.
Die kursus was fassinerend. Dit het onder andere Klinies-, Voorligting- en Industriële sielkunde ingesluit en my gekwalifiseer as Psigometris. Ek was egter nie oortuig dat mense rêrig net deur luister en gevoelens reflekteer a la Rogers gehelp kon word nie. Ek was nogal teleurgesteld. Was dit nou al? Dit het vir my oneties gevoel om stukkende mense te ‘charge’ net daarvoor. Dosente het ons aangemoedig om ons idees te deel in hierdie ‘veilige’ opset. Duur les geleer: dis nie ‘n goeie idee om hardop te wonder hoekom mense nie eerder ‘n goeie pêl kry nie. Ek het boonop in my eindeksamen geskryf dat daar “geen siel in Sielkunde” is nie. Nie die gewensde insig vir Meestersgraad keuring nie. Die beroepsdeur van fuddy duddy Sielkundige het in my gesig toegeklap. Ek het my trane afgevee, SAL keuring geslaag en ‘n blinkoog lugwaardin geword. Whoopeeee!!!
Die verskeidenheid kontinente, kulture en kreature; rondtoer, ski en scuba avonture was ‘n absolute fees vir vyf jaar. Ons verantwoordelikheid was veiligheid op die vliegtuie en om ‘n ambassadeur vir die RSA te wees. Laasgenoemde was nogal ‘n uitdaging tydens die tyd van sanksies en erge antagonisme teen ons ‘presupposed’ spul RSA-rassiste. Toe begin ek van my mense tuis vervreem en voel ook dat leë katedrale nie kos vir my siel is nie. Boonop wou ek ook graag eendag my eie gesin hê.
Ek aanvaar toe ‘n sielkunde pos in Pretoria Sentraal Gevangenis. Na my basiese opleiding (dril, skiet, noodhulp ens.), verkry ek Adjudant ‘status’. My job was onderhoude, psigometriese toetsing en verslae skryf oor raadsgevangenis met die doel om hul te klassifiseer vir plasing (afhanklike tipes moes geskei word van psigopatiese tipes). Hier hoor ek stories wat my perspektief oor ‘the worst of the worst’ vir altyd verander na: “There but for the grace of God go I”. Die werk self was boeiend (no pun intended) – maar my kollegas?… Toe ek eendag in die personeelkamer weer na hul lang gesigte kyk waar hul in hul lang ry sit verneem ek: “Wie is dood?” Toe hulle nie eens reageer nie, het ek geweet: Ek moet hier uit voordat ek ook ‘n zombie word. Totsiens tronkuniform, sleutelgerammel en vrot daggareuk.

Soektog na sin
Hello bekende armgat studentelewe! Met ‘n druipstert het ek myself toe laat oortuig dat ‘n HOD ‘n tipe werks versekeringspolis sou wees. Ironies! Die beroep wat ek op skool totaal verwerp en selfs ‘n beurs van die hand gewys het. Dit was nogal ‘n aanpassing om vir ‘n jaar sonder salaris tussen kampus kabouters te wees. Kort na die pynlik vervelige kursus, het ek ‘n vinnige “wake-up call” gekry as gevolg van my English ‘tietsha’ pos by ‘n tegniese hoërskool in Atteridgeville. Scary tydens politieke onluste. Hier sien ek hoe topklas toerusting en rekenaars, geskenk deur naïewe oorsese borge, verwoes word deur wilde ‘seuns’ wat te oud is vir skoolbanke. Ons was met gewapende pantserkarre skool toe vervoer. Ek het veiliger gevoel in die tronk! Ek kon mettertyd wel die ‘kids’ effe tem met vaardighede wat ek met ‘n smile by SAL geleer het. Die leerlinge het my daarna PJ Pôwas begin noem. Seker maar my ‘80’s perm. Dit het hul gefassineer dat my hare actually beweeg as hul agter my saggies daarop blaas terwyl ek op die bord skryf. (Ons bly maar stil oor die “personal space” kultuurverskil).
Kort daarna het ek ‘n pos by Universiteit Transkei in Umtata gaan “claim” as student counsellor (Ekt my CV ingegee, gaan vra en hul het vir my ‘n pos geskep. Go figure.) Hier het ek vrye teuels gehad om eie inisiatief te gebruik. Ek het ‘n klomp workshops begin reel. Die ridiculous verskeidenheid eksentrieke karakters wat almal in Umtata bymekaar uitgehang het, was verfrissend uniek. My beste vriendin was die ambassadeur se dogter. Ek was deeglik bewus daarvan dat politieke onheil hier soos ‘demons’ uitgebroei het. Studente het soms ons blanke meisies se karre probeer omskud. My terapie? Die Wildekus!
Kort liefdeslewe + Lang harde lesse
Het toe nie dié wyse raad gevolg nie: “Moenie met enige simpleton trou nie, trou met ‘n spesiále simpleton”.

Ek val vir ‘n wewenaar, los my werk soos ‘n fool en word basies ‘n ‘domestic nanny’ vir drie kleintjies… en toe sy jongste na ‘n jaar van die doeke af is, is hy skielik nie meer so lief vir my nie (surprise). Kortliks: ek’t die kinders meer gemis as die narsis. Mens sou dink ek het my les geleer met mans.
Die tweede mismatch trouflop was nadat ek probeer weghol het van ‘n bankbestuurder wat my gevang het as sy “ego-boost”. Sy Stepford Wife plan het misluk. Ek’t nogtans weer hard probeer – gebid en submit – maar moes na tien jaar aanvaar: as net een party bereid is om te werk aan ‘n huwelik, is dit doomed. Om myself te bluf met ‘niemand is perfek’ nie, het dekades van my lewe verniel. Twee egskeidings later weet ek verseker: ek is nie gemaak vir domestic bliss nie. Ek is waarlik gelukkig geskei!
Ek het my dogter Mignon alleen grootgemaak – sy is my hart, my hoop, my enigste prestasie. Die antwoord op daardie jare se gebede hou vandag net aan vermenigvuldig. Mignon se kosbare huweliksmaat: superman Dr Jaco Marais (Rekenaar Ingenieur), hul unieke mooi verhouding, My Mignon: kreatiewe, liefdevolle graad drie juffrou, plus die ultimate bonus: hul twee wyseman seuntjies: Livan (2jr 7mnde) + Kenno (7 mnde), getuig van die Here se verstommende genade. My liefdesbeker loop oor.

Wortels + Werk
Die laaste 30 jaar van my loopbaan het ek spartelend danksy my sterk moedersinstink in Buitengewone Onderwys bly uithou. Ek het eers afgelos in ‘n sielkunde pos by ‘n skool vir serebraalgestremdes in Johannesburg. Daarna het ek Engels gegee vir hardhorende matrieks, wie se gehoor-apparate gereeld in protes afgeskakel is. Afrikaans was vir hul moeilik genoeg. Hier het ek voluit gegaan vir die die magic van visuele media om hul deur te help. Daarna was ek een van die laaste gelukkige dinosourusse wat nog ‘n permanente Sielkunde pos by ‘n spesiale skool vir Spesifiek Leergestremdes te kry.
Die ontwykende meestersgraad waarvoor ek herhaaldelik aansoek gedoen het (selfs ná ‘n tweede honneursgraad in Opvoedkundige Sielkunde) was toe nog nie ‘n vereiste nie. Die ADHD/Aspie kinders met ongefiltreerde eerlikheid en andersheid het tuis gevoel by my. Ek was deel van ‘n dinamiese span, ‘n buffer vir kinders wat nie in boksies pas nie, en ‘n teenvoeter vir ’n broken system. Ek het probeer lig wees waar ek kon sonder om myself te verloor. Maar die onderwysdepartement en skool het te toksies geword. My pa het my altyd gewaarsku ek poep teen die donderweer – eventually het ek my strydbyl neergelê en effens vroeër afgetree.
Silwer jare + Selfherwinning
Nie een oomblik spyt nie. Ek’t ‘n talent ontwikkel om alles en almal te dodge wat my ‘trapped’ laat voel of my kosbare tyd steel met drama. Ek’s nie jonk, mooi, maer of fiks nie maar is dankbaar om skuldvry en onafhanklik te wees.
Ek werk by perdeskoue as aankondiger, sekretaresse of welsynsbeampte en lees eksamentye vir kinders met leerprobleme. Dit finansier my kuns-, aqua-, lyndans- en perdryklasse.
Ek speel weer soos ‘n kleuter en inspireer dalk per ongeluk – as mense die funny goed sien wat om my skeefloop terwyl ek seriously nuwe dinge probeer, behoort hul beter te voel oor hulself!

Verder volenteer ek al jare as videograaf by my kerk. Lately is die remote kamera my duur speelding waar ek langs die director sit. Hier kan ek al ses die kameras se beelde gelyk op ‘n skerm sien. Al nadeel is dat ek nie hardop kan saamsing nie. Ek voel amper skuldig oor hoe min ek doen met so ‘n groot impak. Die dienste word wêreldwyd op verskeie platvorms uitgesaai. Weereens die voordeel van vloeiende komplekse spanwerk.
My hart is maar seer oor my Samurai-perd wat aan die begin van die jaar hemel toe is sonder my. Hy was vir 10 jaar my Yoda en beste vriend. Ek’t ‘n Macadamia-boom op sy graf geplant voordat ek gehoor het dis die heel hardste neut om te kraak. Oh well. Dis simbolies van ons altwee: hardegatte met goed beskermde sagte kerns.
Ek’t eers gedink dis nou tyd vir rustig raak en dat ek net myself, my tuintjie en my twee klipkouende Pekingese aan die lewe moet probeer hou. Noudat ek oor my wobble begin kom, irriteer die passiwiteit my en wil ek weer voluit begin leef terwyl ek nog asemhaal. Ek het dus weer versigtig begin ry op beskikbare perde met wie ek nog verhouding moet bou. Aangesien ek eers op die ouderdom van 57 begin ry het, en Sam my opgepas het, is dit nogal ‘n risk wat ek neem. Ironies: toe ek nog deelgeneem het aan Western Mounted Games skoue, was die leuse op my klubhemp: Confidence, Speed and Precision. Ek’t dan gesê die jongeres kan maar die speed doen, ek doen die confidence en precision. My afrigter het dan met ‘n smile agter haar hand kwytgeraak: “Sy doen nie die precision ding nie”. Ek was nogtans trots op wat ek kon regkry met slegs confidence. Op hierdie stadium oefen ek nou net om my confidence te herwin. Dankbaar oor die nuwe uitdagings en ritmes wat ek nie sonder my sout-van-die-aarde maplotter tribe en die natuur as my sanctuary sou waag nie.
As ek terugkyk op die agonies en ecstasies van my 67 jaar op ons mooi blou planeet, kan ek eerlik sê: It is well with my soul.
Final thoughts:
Be strong and courageous. Keep the faith.