#70 ~ Jannie Barnard

#70 ~ Jannie Barnard

Ek het, soos verskeie ander van ons, eers in 1974 by Menlopark aangesluit—’n nuwe begin in standerd 9. Die aanpassing was nie maklik nie, veral omdat Menlopark nie Noord-Sotho as vak aangebied het nie. Ek moes toe Biologie kies. My gunstelingvak was egter Aardrykskunde, en ek het altyd uitgesien na lang pouse.

Maar namate die jaar vorder, het ek goeie vriende gemaak: Spekkies, Nico, Koos, Loekie, Willem, Rudel en Nic du Plessis. Hulle het my nuwe wêreld bekend en gemaklik gemaak. Ek het my skooldae baie geniet — veral die atletiek, die “40 days”, Nkwe-uitstappies, die kerkafsluiting en natuurlik wanneer ons die kos van die Huishoudkunde-klas kon proe.

My Pa en ons familie

My pa was ’n bekende Springbok-atleet en afrigter (sien koerantuitknipsel van 1955), en ek het van kleins af atletiek in my bloed gehad. Hekkies en driesprong was my spesialiteite. My o.16-driesprongrekord het vir 26 jaar bly staan—iets waarop ek nog steeds trots is.

Ons is vyf kinders—Ria (matriekklas van ’76), Paul (of “Paultjie”), Gerhard (’n besonderse kunstenaar) en Willem. Ons is ’n hegte familie wat gereeld saamkuier en almal woon nog steeds in Pretoria. 

Diensplig en Universiteit

Na matriek is ek Lugmag toe vir twee jaar. Die sesmaande-instrukteurskursus was intens, en dit het my atletiekloopbaan tot stilstand gebring. Ek het ’n atletiek-beurs van Stellenbosch ontvang, maar verkies om diensplig te doen—ek was in ’n verhouding en wou nie te ver van my meisie wees nie. ’n Maand later kry ek egter ’n ‘Dear Johnny’.

Ná diensplig het ek B.Admin aan Tuks gaan swot. Ek onthou nog hoe ek op die trappe van die bib gesit en kyk het hoe die mooi meisies verbystap. Daardie jare was vol lewe—disco by Bumpers en die Grand Wazoo, in Tin Pan Alley-hemde. Finch & Henson se musiek by die Keg het ook gereeld ons siel gevul.

Op universiteit het ek saam met Abrie Vorster en sy meisie, Nancy van Rensburg (Brümilda se suster), karate gedoen by Eddie Dorey. Ook saam met Soon Pretorius, wat vandag nog sê ek is die rede waarom hy aangehou het met karate.

Loopbaan

My eerste werk was by Nedbank, waar ek saam met Hentie Saayman gewerk het. Daarna het ek vir sewe jaar by Rembrandt gewerk en promosies vir Peter Stuyvesant by plekke soos Limelight gedoen. Ek het die sosiale kant van die werk baie geniet. In dié tyd het ek Liesbeth Rauch ontmoet—’n oud-Parkie van die klas van ’82. Haar pa, Frits Rauch, was ’n bekende narkotiseur en Laurika Rauch se nefie.

My broer, Paul, het toe baskitaar gespeel vir Jackhammer, Piet Botha se groep. Hy het later met Stephanie van Niekerk, Dolf se dogter (“die son struikel”), getrou. Jackhammer het selfs op ons troue gespeel. Paul het ook saam met Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek gespeel, en saam met Brian Finch. Ek en Liesbeth se seun, Corrie, is in 1986 gebore. Liesbeth het haar eie boetiek bedryf, klere self gemaak en meubels oorgetrek.

Na Rembrandt het ek vyf jaar lank vir Clover gewerk, waar ek weer saam met ’n oud-Parkie, Louis du Preez, pad geloop het. Toe ek genoeg gehad het van die korporatiewe wêreld, het ek vir ’n paar jaar tentoonstelling-stands gebou. Dit het oorgevloei in konstruksiewerk, en ek was drie jaar lank ’n site-voorman by ’n ontwikkeling langs Dainfern. Met daardie ondervinding kon ek my eie spannetjie op die been bring en algemene handyman-werk begin doen.

Kruispad en nuwe lewe

Maar toe begin die moeilikheid. Ek en ’n paar vriende—ook oud-Parkies—het begin afglip van sosiale drinkers na ernstige alkoholisme. Ons het in ’n vernietigende siklus vasgevang geraak, sonder besef van realiteit. Twee van my vriende is oorlede aan alkohol-verwante siektes.

Een nag het ek ’n lewensveranderende ervaring gehad. Ek was so naby aan die dood dat die dokter wat my ondersoek het, nie kon glo ek leef nog nie. Ek het my kamer toegegrendel en onttrek—nie net van drank nie, maar ook van kalmeermiddels. Ek het vir drie maande feitlik nie geslaap nie, net in die fetus-posisie gelê, moeg en in pyn. Ek moes weer leer loop. Vyf maande later kon ek weer ’n motor bestuur.

Hersteldinamika is ’n proses waardeur ’n mens ’n traumatiese gebeurtenis in jou lewe kan verwerk, genesing vind, en nuwe perspektief kry om jou storie opnuut te bou. Die Hersteldinamika-kursus wat by Doxa Deo Brooklyn aangebied het in Feb 2020 klaargemaak. My selgroep is vir my baie belangrik en die glimlagte op almal se gesigte vertel die storie. Ek is opreg dankbaar vir al die getuienisse van wat tydens die kursus plaasgevind het.

Vandag is ek al agt jaar nugter. Ek gee eer aan die Here vir my lewe, en weet dis gebede wat my gedra het. Soos die man wat deur die dak na Jesus gebring is—dit was sy vriende se geloof wat hom gered het.

Nadat ek herstel het, het ek saam met my broer en seun ’n antieke winkel, Retro Revival, oopgemaak. Ons het meubels, plate en oudhede verkoop.

My familie

Ek het begin omsien na my ma en uiteindelik by haar ingetrek om vir haar kos te maak, medisyne te gee en geselskap te hou. Sy is op 2 Januarie 2023 oorlede terwyl ek haar in my arms vasgehou het—’n voorreg waarvoor ek ewig dankbaar sal wees.

Ek het twee pragtige kinders: Corrie (38) en Lisa (33). Corrie, ’n ‘content creator’, maak video-dioramas wat hy deel op YouTube, TikTok, Facebook en Instagram. Sy kanaal, Odd Little Workshop, het wêreldwyd aandag gekry—sy eerste TikTok-video het meer as 20 miljoen kyke gehad. Hy is boonop ’n kampioen vlieg-hengelaar en verskyn gereeld in hengeltydskrifte. Sy vrou het ’n graad in biomediese wetenskap en werk in die patologie-laboratorium by Pretoria-Oos hospitaal.

Lisa, my engel, het haar eie besigheid, The Rabbit and Moon Co. Sy verkoop ingevoerde serpe, funky kouse, baadjies, pins en ponchos. Sy het in Meisies Hoër se koor gesing—ek het elke opvoering bygewoon.

Liesbeth, my eksvrou, het nooit weer getrou nie. Sy woon op haar oorlede ma se plaas, Wathaba, tussen Machadodorp en Badplaas, in die Skurweberge—’n paradys met watervalle, staproetes en pragtige houthutte. My kinders het ook aandele in die plaas.

Ter afsluiting

Vandag werk ek steeds voltyds saam met my vriend, André Wasserman. Ons doen kontrakwerk vir Postnet, onder meer vir alle ambassades in Pretoria—visums, vertalings, Dirco-sertifisering, ens.

Ek lees graag—oorwegend Engelse fiksie, maar geniet ook Herman Charles Bosman. Ek het pas Die Groot Verlange deur Leon Rousseau gelees (oor Eugene Marais), asook die Bybel en Bybelverwante werke soos Unlocking the Bible.

Ek stap elke oggend ’n paar kilometer en is gesond en dankbaar. Ek is geseënd met my verhouding met my kinders, familie en vriende en leef elke dag met nederige dankbaarheid en gee alle eer aan ons Hemelse Vader. Gebede wórd verhoor.

Deur my omswerwinge het ek geleer om die waarde van elke mens as individu te besef en te waardeer. Sien julle by die reünie!