#68 ~ Alet (Conradie) Dollenberg

#68 ~ Alet (Conradie) Dollenberg

Laerskool

My pa was ’n predikant en ons moes gereeld oppak en trek, wat beteken het dat ek in ses laerskole was! Laerskool was vir my swerwersjare.

Ek het afgeskop met Graad 1 in ’n plaasskool op Dalunie, wat ook my pa se eerste gemeente was. Daarna het ek skoolgegaan by Sydney Williams in Swaziland, sonder enige kennis van Engels. Met baie trane moes ek vinnig die taal aanleer. Toe volg Ammersfoort, Swartklip, Ermelo (waar ek in die koshuis was), en uiteindelik het ek my pad gevind na Menlopark Laerskool, in die middel van Standerd 3. Ek het baie pelle gehad, maar min boesemvriende.

Hoërskool

Hoërskool was sorgelose jare – en van my gelukkigste.

Terwyl ek deur almal se stories lees (wat my soms hardop laat lag het), het ek weer aan wonderlike herinneringe gedink wat ek lankal vergeet het: die “sing songs”, die swembad-inwyding met die hekke gesluit, 40 Days by Nkwe, matriekafskeid, afsluitingsdiens in Lynnwood NG Kerk en ons laaste skooldag.

Ek het ou foto-albums gaan uithaal – en skielik voel dit of die horlosie 50 jaar teruggedraai is. Die Standerd 5-klasfoto het my laat besef ek was in mnr. Maree se klas saam met Plankie, Tole, Santie, ensovoorts.

Op Hoërskool was Mimi Lamprecht, Monica Strydom, Greta Willers en ek boesemvriende, met Monica die groot voorbok. Ons het elke naweek oorgeslaap, Saterdae ysskaats gegaan, soms by Plankie gaan swem en skool ‘gebunk’ as dinge vervelig geraak het.

Toe lees ek toevallig dat my pa die skriflesing en gebed tydens die formele afsluiting gedoen het. Wie sou dit kon raai?

As strategiese denker is ek nooit uitgevang nie, terwyl die ander gedurig detensie moes sit. Mnr. Visser moes altyd ’n A4-vorm teken as ons vroeër wou huis toe gaan, en ek het besluit niemand sal iets agterkom as ek met my rugsak en ’n tikpapier in die hand verby die hoof se kantoor by die hoofhek uitstap nie. “Die kind het mos goeie maniere – kyk hoe vriendelik waai sy vir die hoof wat by die venster staan!”

September 1975 het my pa weer ’n beroep aanvaar – die keer na Pietermaritzburg. Gelukkig het my ma toe voet neergesit dat die “groot trek” eers ná my matriekeksamen sou plaasvind.

Na Skool

Ek het eers by die Onderwyskollege in Pretoria gaan studeer, maar ná ses maande besef dat of ek of die kinders dit nie sou oorleef nie. Ek is toe terug na my ouers in Pietermaritzburg en het Bemarking gaan studeer. Daarna het ek weer Pretoria toe getrek, in Sunnyside gebly (toe nog ’n studente-woonbuurt), en onder andere by die Technikon Pretoria gewerk.

Na vier jaar het ek Hartenbos toe getrek en as bemarkingsbeampte vir die Mosselbaai Munisipaliteit gewerk. Later terug Pietermaritzburg toe, waar ek vir die Administrateur van Natal en die NPA gewerk het. Weer terug Pretoria toe vir ’n jaar se werk, en toe besluit om my eie invoermaatskappy te begin. Ek het vir ervaring ses maande by Doeane en Aksyns in Durban gaan werk – en ja, weer getrek!

Gelukkig het die “itching feet,” soos my pa dit grappenderwys genoem het, tot ruste gekom. Ek is na twee jaar bevorder na SARS se Oos-Kaap en KZN Streekkantoor in Durban, waar ek vir drie jaar gewerk het. Daarna het ek ’n jaar lank tussen Pretoria en Durban gependel as deel van die SARS-transformasieprojekspan.

Tot my smart moes ek verder studeer vir bevordering en ek het verskeie poste by SARS beklee. en  Gelukkig het ek ’n man wat briljant is met wiskunde – iets wat nog nooit my sterk punt was nie!

 

 

Aftrede

Uiteindelik, en tot my groot vreugde, het ek einde Januarie 2023 afgetree – bevry van militante vakbonde, personeelprobleme, werkspolitiek en al die daarmee gepaardgaande spanning. Naweke in Durban is gevul met staproetes in die Drakensberge, perdryroetes en wonderlike vakansies oorsee of by Nature’s Valley (Ousus se vakansiehuis). Die berge en katte was nog altyd my groot liefdes – die berge is bevryding, kos vir my siel.

Ongelukkig is ek vyf jaar gelede met osteoporose gediagnoseer. Ná vier spinale operasies is stap ’n uitdaging, en ná die laaste operasie in Januarie 2024 – en drie maande plat op my rug (tydens wat ek “verdubbel het in hoeveelheid”) – is perde se rûe nou heeltemal taboe! Ons besoek steeds Golden Gate gereeld, en ek stap kort entjies op die strand.

Ek het ’n dogter (’n maatskaplike werker) wat na ’n egskeiding uit die VK met haar twee kinders (regte Pommies!) by my kom bly het; ’n seun wat ’n bedryfsingenieur in Kaapstad is; en twee stiefseuns in Pretoria (’n predikant en ’n onderwyser). Ons het agt kleinkinders – die oudste is 20 en die jongste 2! Kersfees is kosbaar met die huis vol kinderstemme. En dan is daar drie “kattekinders” wat tans die groot liefde in my lewe is.

 

 

Deesdae is my dae net te kort vir alles wat ek wil en nog moet doen: lekker koffies met pelle, die biblioteek leeglees, orgideë kweek (baie werk maar so bevredigend), katte red, liefdadigheid en tuinmaak. Om met ’n koppie koffie op my stoep te sit en te kyk hoe die son uit die see verrys of die volmaan daaroor glinster, bly vir my ’n voorreg.

Ongelukkig het al die jare in Natal my Afrikaans geweldig laat verengels (mnr. Roux het altyd gesê: “Engels, Engels… in ons skole en ons kerke word ons moedertaal vermoor!”), en ek het ’n groot Sharks-ondersteuner geword (jammer, Rudel!).

Die grootste les wat ek op skool geleer het, was by mnr. Du Plooy (Engels): “Don’t tell me I could not do it, Sir, but rather: I did not try hard enough, Sir!”

Ek gaan dus my allerbeste probeer om die reünie by te woon – al is dit net Saterdag – en hoop ons herken mekaar ten spyte van nuwe plooie en bykomende kilogramme. Om weer in Afrikaans te skryf was ’n uitdaging op sy eie!

’n Duisend dankies aan al die organiseerders wat hierdie lekker uitsien moontlik maak. YOU ROCK!