#66 ~ Marita van der Vyver

#66 ~ Marita van der Vyver

Onthou julle daardie donker garage-paarties van die vroeë sewentigs en die close dance en al die lekker dinge wat daarmee saamgegaan het? 

Nou ja, ek voel bietjie soos ‘n gatecrasher by een van daardie paarties, want ek was nie saam met julle tot in matriek nie. Maar ek belowe dit was nie my skuld nie. My pa het besluit dit sal goed wees vir my om my laaste 2 skooljare in ‘n plattelandse koshuis deur te bring, ver van die verleidings van die groot stad. Ek weet steeds nie of dit my ‘n beter mens gemaak het nie. Ek het wel geleer dat plattelandse kinders ook wilde partytjies in donker garages hou.

Dis die eerste keer in my lewe dat ek ‘n skoolreünie bywoon. Die verskoning is gewoonlik dat dit te ver en te duur is, omdat ek al amper drie dekades in Frankryk woon, maar die eintlike rede is dat ek as skrywer altyd eerder ‘n waarnemer as ‘n deelnemer by sulke geleenthede wil wees. Ek wil daardie spreekwoordelike vlieg teen die muur wees wat almal dophou sonder dat hulle weet hulle word dopgehou.

Maar ek glo in serendipity, gelukkige toeval, en hierdie 50ste reünie word heeltemal toevallig gehou op ‘n naweek wat ek nie net in Suid-Afrika is nie, maar in Pretoria, van alle plekke, om ‘n nuwe boek bekend te stel. G’n verskoning nie, het ek vir myself gesê toe Ingrid Doms my laat weet dat ek ook na die reünie genooi word. Just do it. 

Ingrid is natuurlik al dekades lank mevrou Koos Marais, maar vir my bly sy die buurmeisie Inkie Doms saam met wie ek van standerd ses af soggens fiets gery het tot by die skool. Ek was daar toe haar en Koos se romanse langs die swembad begin blom het. Iewers het ek selfs ‘n foto om dit te bewys.  Sy was ook een van ‘die twee Ingrids’ in ons Voortrekkerspan, die Dubbeltjies, met Nampie en Wanda as nog twee lede. 

Ná my twee gedwonge koshuisjare is ek terug na my Kaapse geboortegrond om op Stellenbosch te gaan swot, met ‘n beurs wat ek in ‘n landwye digkunskompetisie vir matriekleerlinge gewen het. Dis geborg deur Tastic Rice – ter ere van die ‘Eeufees’ van Afrikaans in 1975 – en tot vandag toe is ek uit dankbaarheid ‘n pligsgetroue ryseter. 

Daar was nie veel ander Parkies in my jare op Stellenbosch nie, maar vir Christelle Taljaard het ek gereeld gesien omdat ons met dieselfde ouens uitgegaan en in dieselfde kroeë rondgehang het. Ons vriendskap is verder versterk omdat ons gesinne op Stilbaai vakansie gehou het.  En vir Nappie het ek soms op die strande saam met die coolste surfers raakgeloop.

Ondanks al die gekuier in kroeë en leeglê op strande het ek ‘n honneursgraad in joernalistiek gekry, en daarna ‘n meestersgraad waaraan ek deeltyds gewerk het terwyl ek ‘n joernalis by Die Burger en Sarie was. In my honneursjaar het ek weer my skoolvriendskap met Ingrid van Rensburg opgetel toe sy ook nagraads aan US kom studeer het. Ek onthou dit as ‘n tyd van vreeslik baie partytjies, maar ek onthou nie die besonderhede nie. Ek het iewers gelees as jy die sestigs en sewentigs helder onthou, was jy nie rêrig daar nie. Dis my verskoning. 

Ek het my eerste boek op 23 gepubliseer want ek was bang dat ek vroeg sou doodgaan, en op 27 het ek besluit om te kyk of ek ‘n ruk lank as vryskut met woorde aan die lewe kon bly (vertaling, kopieskryf, proeflees, rubrieke, enigiets wat ‘n paar rand betaal het) terwyl ek aan my volgende boek skryf. Dis nou presies 40 jaar later en ek het nooit weer vir ‘n vaste salaris gewerk nie. Helaas ook nooit weer betaalde vakansies of siekverlof of kraamverlof of maatskappymotors of enige van die voordele van ‘n salaristrekker gekry nie. Maar ek wou baie skryf en baie reis – en dit het ek die afgelope 40 jaar gedoen. 

Op een van my reise het ek verlief geraak op die Fransman met wie ek nou al 25 jaar getroud is en saam met wie ek vier

kinders grootgemaak het. Ons volwasse kinders woon in Frankryk en Switserland en het skynbaar geen planne om my ‘n ouma te maak nie. Intussen word ek getroos met katkleinkinders – met wie ek moet ‘gesels’ as ons WhatsApp-video-oproepe maak – want die kinders sê you don’t need grandchildren, Ma, you have grandpussies.

Ek kom in September SA toe om ‘n nuwe nie-fiksieboek bekend te stel (My Jaar van Vrees en Vryheid/My Year of Fear and Freedom) en hoop om sommige van julle nie net by die reünie te sien nie, maar dalk ook by een van die bekendstellings wat dieselfde week  in Pretoria en Johannesburg gehou word – of later elders in die land. Ek gaan my bes probeer om my beskimmelde skrywerspersona te onderdruk en die jonger Marita te channel sodat ons behoorlik kan kuier.