Op skool was ek maar stil en het ek my eenkant gehou. Ná matriek is ek met ’n onderwysbeurs Tukkies toe om BMus te studeer, maar teen April was dit duidelik dat ek sou sukkel om in te pas by die konserwatiewe politieke atmosfeer. Gelukkig het Wits my eerste jaar erken, en ek kon ook my honneursgraad daar voltooi.
Die HOD het my glad nie aangestaan nie en het my summier opgeskop toe ek gevra is om by Menlopark standerd 8 tot 10 musiekklas waar te neem. Dit was heerlik om les te gee en met klein groepies belangstellende leerlinge te werk.
Ek en Brian is reeds saam van einde 1974 af en is toe aan die einde van 1979 getroud. Renate Lippert, Nerine le Roux en Christel van der Berg was by ons troue. Ons is nou al 46 jaar getroud en woon al die afgelope 40 jaar in dieselfde huis.
Na sy BA aan Wits het Brian as joernalis by The Star in Johannesburg begin werk.
Einde 1980 het ek ’n pos aanvaar as cellodoseent by die destydse konservatorium in Windhoek. Aanvanklik sou ons net vir twee jaar bly – maar ons is steeds hier. Namibië is ’n heerlike plek om te woon, kinders groot te maak, te werk en veral om te gaan kamp. Daar is soveel wonderlike plekke om te ontdek. Omdat Namibië se bevolking so klein is, kry mens baie geleenthede – “We are all big fish in a small pond.”

Brian het later al hoe meer betrokke geraak by natuurbewaring, veral CBNRM (Community-Based Natural Resource Management). In 1996 was hy instrumenteel in die opstel van beleid wat gelei het tot die aanneming van die wet in die parlement wat kommunale inwoners die reg op hul natuurlike hulpbronne gee. Vandag is daar reeds 86 kommunale bewaringsgebiede (conservancies) in Namibië. Sy werk het hom dikwels veld toe geneem – en as gesin het ons ook baie gebaat deur saam na afgeleë plekke te kon reis.
Omdat ons soveel tyd in die veld deurgebring het, het Namibiese inheemse plantegroei ’n groot belangstelling by my geword. ’n Mens wil immers weet waarna jy kyk!

Ek was 14 jaar lank by die konservatorium, maar die druk van jong kinders, ’n reisende man en geen familie naby nie, was te veel. Sedert 1994 gee ek egter privaat musieklesse – cello en klavier – en ek geniet dit steeds. Ek speel ook gereeld in die Namibiese Nasionale Simfonieorkes (NNSO) as leier van die celli. Verder word ek dikwels genooi om as dosent op te tree by musiekkursusse vir jongmense. Verskeie van my leerlinge het reeds as soliste by ons Konsertfeeste opgetree – sommige het selfs internasionale musikante geword.
Ons twee seuns woon in Kaapstad en Centurion onderskeidelik – heeltemal te ver na my sin.
Dit sal baie interessant wees om julle almal ná 50 jaar weer te sien. Ek hoop ek herken iemand