Ek was bevoorreg om van Graad 1 tot Standerd 10 in Menlopark te wees. Daar is ’n paar dinge wat vir my uitstaan uit my skoolloopbaan:
Die dag toe hulle ons gevang het waar ons by Izak Potgieter bymekaargekom het met sigarette en ’n paar koue biere. Sowat ses of sewe van ons moes daardie middag teen Groote Schuur se toer-span rugby gespeel het, maar ons is summier uit die span gehaal en vervang.
Ons het toe ’n nuwe turfkrieketkolfblad gekry, en die eerste wedstryd wat ons daarop sou speel was teen HF Verwoerd. Daar was nog nie ’n enkele bal op die blad geboul nie. Ek het die loot gewen en besluit ons gaan eerste boul. Met die heel eerste bal het ek die kolwer se paaltjies uitgeklits — wat ’n oomblik!
Die Standerd 10-rugbywedstryd teen die Standerd 9-span sal ek ook nooit vergeet nie. Ons span het spelers ingesluit wat nie eens rugby gespeel het nie, terwyl die Standerd 9-span ’n sterbelaaide span gehad het, met elf eerstespan-spelers. En tog het ons gewen — 3–0. Dit was ’n groot eer om vir my skool se eerstespan in beide rugby en krieket te speel.
Julian Visser sal ek ook nooit vergeet nie. My gunstelingonderwysers was Poenie Holm, mnr. Van Solms, mev. De Lange en mev. Roode.
Na skool het ek Tukkies toe gegaan om onderwys te studeer. Kuiers en partytjies het egter hul tol geëis, en ek het ná een jaar my studies opgeskop. Ek wonder of Karien nog kwaad is vir my… sy sal weet hoekom (tong in die kies!).
In 1977 het ek by die SAP aangesluit en na ses maande opleiding is ek uitgeplaas na die Blitspatrollie en Honde-eenheid. Ek het my bosopleiding op Maleoskop voltooi en is daarna vir drie maande grens toe gestuur.
In 1979 is ek getroud met Ilse Smit, ’n meisie van Messina waar haar ouers ’n wildsplaas gehad het. Ons het twee dogters: Tanya, wat in Rochester, Kent (VK) woon; en Jana, ’n onderwyseres in Upington. Ons het ook vier kleindogters.

In 1980 het ek die uniformtak vaarwel geroep en as speurder by Brooklyn Polisiestasie begin werk. In dié tyd het ek kennis gemaak met die Noord-Transvaalse O/20-rugbyliga — ongenaakbaar hard, veral wanneer Polisie en Tukkies teen mekaar gespeel het. In daardie wedstryde was vuilspel en bakleiery aan die orde van die dag. Ek het saam met manne soos Johan Marais en Jannie Breedt gespeel, wat later albei Springbokke geword het.
Ek het die Polisie in 1981 verlaat en by NBS Pretoria begin werk, waar Theo Meyer later by my aangesluit het. In 1983 is ek verplaas na NBS George. Ek het steeds aktief aan rugby en krieket deelgeneem en het my WP Platteland-klere in krieket verwerf. George was ’n wonderlike plek om te woon. Ek het buitemuurs aan die satellietkampus van die PE Technikon studeer en my diploma in personeelbestuur verwerf.
In 1988 het ek by NBS bedank en by Sanlam se administratiewe afdeling in George begin werk. In 1990 is ek verplaas na Sanlam Vredendal aan die Weskus — een van die lekkerste tydperke van my lewe. Ek het steeds rugby en krieket gespeel en Noordwes in krieket verteenwoordig. Ek het ook kreef begin duik, en baie speervisstogte gedoen. Kreefduik, speervang en kuierery het my amper my werk gekos.
In 1994 het ek en ’n vriend vir 21 dae na Nieu-Seeland gegaan om ses wedstryde — insluitend twee toetse — van die Springbokke te kyk. Daardie jaar het ek besluit om skeidsregter te word. In 1995 is ek na Sanlam Centurion verplaas, maar ek het gesmag na die see en is uiteindelik na Sanlam Upington verplaas. In 1999 het ek by Sanlam bedank en by SAD in Upington begin werk as personeelbestuurder in die rosyntjiefabriek. Dit was insiggewend om te sien hoe die rosyntjies wat ons in pakkies koop, verwerk word.
Ek het steeds rugby geblaas en betrokke geraak by die Bokkieweek — ’n nasionale skoolkompetisie waar rugby, netbal, hokkie en debat aangebied word. Ek was die eerste rugby-skeidsregter op die Bokkieweek wat die gesogte Groenbaadjie verwerf het. Ek het ook die O/13- en O/14-rugbyspanne van Griekwas afgerig wat aan die Bokkieweek deelgeneem het, maar terselfdertyd as skeidsregter opgetree. Later jare was ek koördineerder van die O/19’s.
In 2005 het ’n vyfvat-hartomleiding my verhinder om saam met die SA O/19-span na Rusland en Frankryk te gaan. In 2007 het ek by SAD bedank ná herhaalde doodsdreigemente en het ons na Velddrif aan die Weskus verhuis, waar ons ’n pizzarestaurant, karwassery en klerewassery begin het.
Velddrif is die hartland van bokkoms, harders en kreef. My vrou het die besighede op die dorp bestuur en ek het by die voerkraal buite Velddrif begin werk — waar ek vandag steeds is. Ek is nog altyd ’n stoere Blou Bul, en dit verbaas my hoeveel Bulle-ondersteuners op die Weskus is! Ek is gereeld in kontak met Nico per WhatsApp of telefoon, en ek en Bobby het baie saam gekuier by Nuweland, waar ons ’n lapa gehad het.

In 2013 het my wêreld in duie gestort toe Herman Pretorius homself geskiet het — en ons alles verloor het wat ons by hom bele het. Hy het ook ’n piramideskema bedryf. Dit het ons byna agt jaar geneem om weer op ons voete te kom. Tot vandag toe voel ons nog die nagevolge van daardie verlies. Ons is amper waar ons wil wees, danksy die hulp van ons familie en dogters.
Ons beplan om uiteindelik in Hartenbos of Mosselbaai af te tree — as dinge vorentoe goed verloop.
Hoop om julle te sien by die reünie.