Bibi (Van Biljon) Ward
Nadat ek almal se wonderlike stories gelees het, het ek die “peer pressure” tot hier in Australië gevoel en besef dit is net reg dat ek ook my storie deel.
Ek was nie akademies of sportief op skool nie, maar het die sosiale aspek baie geniet en deur osmosis by almal iets geleer. Later in die lewe besef ’n mens dat ’n goeie skool, omgewing en vriende almal ’n groot invloed op jou het. Ek was ook bevoorreg om in ’n gelukkige huis groot te word. Min mense kan sê hul ouers was 70 jaar lank gelukkig getroud.
Ek onthou die kuiers tydens skool by Plankie se huis, en ná skool het ons by Karien gaan TV kyk. Hulle was van die eerstes wat een gehad het. My pa het altyd gesê hy sal nooit vir ons een koop nie. Anne, ek wil jou nou nie onder die bus ingooi nie, maar daardie skelm rook in die parkie en die kuiers by Pieter de Beer se huis om musiek te luister, sal ek nooit vergeet nie.
Ons trippies agter op my pa se bakkie na Nkwê toe om te gaan swem was altyd ’n avontuur. In Australië het ek nog nooit iemand agter op ’n bakkie gesien nie. Hier word jy selfs gefine as jy opwind poep en nie afwind nie!
Na skool het ek onderwys gaan studeer, en my eerste pos was by Jan Celliers Laerskool in Johannesburg. Ek het Jo’ies toe getrek vir my eerste liefde. Gelukkig het dit nie uitgewerk nie, en ek het toe ses jaar lank alleen in ’n woonstel oorkant Wits Universiteit gewoon. Ek glo elkeen moet êrens in hul lewe ’n ruk alleen bly — jy leer jouself regtig ken. Saam met twee vriendinne het ek elke jaar oorsee gaan backpack tydens skoolvakansies — op ’n onderwysersalaris, want die rand was toe nog sterk.
Die ouers by die skool het hul bes probeer om vir my ’n man te kry, en my oor naweke Vaalrivier toe genooi, waar ek leer windsurf en waterski het. Hulle was almal scuba-duikers en het voorgestel ek doen ook ’n duikkursus. Ná die kursus het ek die praktiese deel in Sodwana gaan voltooi — en daar, om die kampvuur, het ek my sielsgenoot Matthew ontmoet. ’n Pommie van Engeland. ’n Groot liefde het daar vlamgevat.
Ons is in Johannesburg getroud en het daarna besluit om vir twee jaar Australië toe te gaan — met twee tasse en twee windsurfers — net vir ’n nuwe ervaring. Gelukkig was daar baie werk vir ’n CA en ’n onderwyseres, en ons het binne tien minute permanente verblyf gekry in 1987.

Nou, ná 38 jaar, is ons steeds in Perth en baie gelukkig. Ons twee dogters, Bianca en Jasmin, is hier gebore, en vanjaar het ons ’n baie vars eerste kleinseuntjie, Harry, bygekry — wat ’n vreugde!
Tien jaar gelede het ons van 80% van ons besittings ontslae geraak en in ’n woonstel langs Kings Park ingetrek. Fun fact: dit is een van die grootste parke in die wêreld binne ’n stad wat steeds natuurlike bos het — groter as Central Park in New York!
Die afgelope agt jaar is ek ’n Kings Park-vrywillige gids en neem mense op staptoere deur die park. Ek is so gelukkig om my liefde vir die natuur elke dag te kan uitleef, en om saam met my mede-tree huggers aan te hou leer. Ek het met die gidse die Fairy Circle-inligting gedeel en toe ontdek dat hulle nie net in Namibië nie, maar ook in Wes-Australië voorkom.
Ons is gelukkig om elke jaar Suid-Afrika te besoek, want my ma woon op ’n plaas buite Stellenbosch saam met albei my boeties. Ons is baie dankbaar dat hulle mooi na haar kyk. Ongelukkig was ons al klaar vanjaar in SA en Botswana, en nou moet ons Engeland toe vir my skoonma wat 101 jaar oud is!
Ons voeg altyd ’n bietjie wildtuin of bos aan ons SA-trips, en ’n stukkie Europa as ons familie in die VK besoek.
Verder is ek mal oor my ysterperd (E-bike) en verken al die roetes om die Swanrivier. Ons speel ook ukelele — nie ’n wonderlike instrument nie, maar dit is heerlik om saam met ander te sing. Ons eet gereeld boerewors, melktert en bobotie, en my boekklub se naam is Koeksisters. Ons hou nog vas aan apartheid hier — geen Aussies word toegelaat in ons boekklub nie!
Voor ek afsluit wil ek graag met julle ’n TED Talk deel wat my laat besluit het om ’n Kings Park-gids te word in my “vierde fase.” Dit is The 4 Phases of Retirement wat ons op die WhatsApp-groep sal plaas.
Baie dankie aan die komitee wat die reünie reël, en aan Stefan vir al die harde werk met die stories. Dit was ’n fantastiese idee en laat my voel asof ek deel is van die groep.
Mooi loop almal — en ek hoop om julle by die volgende reünie te sien.
P.S. Net ’n idee… Wat van ’n klein reünie of ’n lang middagete in die Kaap oor vyf jaar? Ek sal die Van Biljon-wyn van Stellenbosch bring. Die lewe is kort.