Na matriek het ek vir ses maande vir ’n landmeter gewerk. In dié tyd het ek op verskeie plekke in Suid- en Suidwes-Afrika gewerk, waar ons onder meer paaie vir die weermag opgemeet het.
Daarna het ek vir 18 maande diensplig in die vloot gedoen.
Ek het toe vir ’n jaar aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer, maar die geleentheid wat Siemens my aangebied het, was te goed om te laat verbygaan. Daardie jaar op Stellenbosch was vir my soos ’n “gapjaar” – een wat my op baie vlakke verryk het, veral sosiaal.
By Siemens was ons ’n groep van 14 wat vir twee jaar intensiewe opleiding ontvang het oor hul interne stelsels en werksaamhede. Terselfdertyd het ons deur Unisa ’n bestuursprogram voltooi.
Na afloop van die opleiding het ek vir twee jaar by Siemens se kabelsfabriek in Rosslyn gewerk, waarna ek ’n pos as rekenmeester aanvaar het by Suid-Afrikaanse Mikro Elektroniese Stelsels (SAMES). Ek was vir 15 jaar daar werksaam.
Tydens my loopbaan by SAMES het ek deur Unisa my BCom-graad in rekeningkunde voltooi. Dit was vir my ’n besondere mylpaal, veral omdat ek op skool net tot standerd ses wiskunde gehad het. ’n Onderwyser het destyds gesê ek moet eerder die vak los – ek het geen aanleg nie, was sy mening. Op daardie stadium het sy woorde vir my sin gemaak. Maar jare later, tussen werk, kinders grootmaak en die huwelik, het ek dit tog reggekry – met my vrou se volgehoue ondersteuning.
In 1980 is ek en Hannelore – ’n Duitse meisie van anderkant die Jukskei – getroud. Ons het twee seuns en is ook geseën met twee kleinseuns.

Ons oudste seun is ’n motorwerktuigkundige wat sy eie besigheid bestuur. Die jongste werk vir die Duitse ambassade en is tans in Berlyn vir verdere opleiding.
Vir baie jare was ek ook betrokke by wedvlugduiwe – ’n groot bron van vreugde. Om duiwe voor te berei vir wedvlugte van tot by Matjiesfontein (+/− 1 100 km) was ’n uitdaging, maar die gevoel wanneer hulle ná sulke lang vlugte veilig terugkeer, is onbeskryflik. Rhoda se pa het my al van skooldae af aangemoedig om belangstelling in die sport te toon – iets waarvoor ek dankbaar is.
In November 2024 het ek ’n hartaanval gehad. My kardioloog het aanbeveel dat ek ’n bietjie stadiger vat, en ek het reeds begin om my werkslading af te skaal.
Vandag is ons op ’n plek waar mens soggens in paaiemente opstaan, maar steeds dankbaar is vir elke nuwe dag.
My vrou en ek beplan om meer tyd aan ander dinge as werk te wy. In Augustus vlieg ons vir drie weke Duitsland toe om by ons kinders en kleinkinders te gaan kuier. Volgende jaar wil ons meer met die woonwa toer en ons mooi land verken.
Ons geniet dit ook om naweke te ontspan op ons kleinhoewe net buite die Dinokeng Natuurreservaat. Die stilte van die bos en die prag van die natuur laat ons telkens besef hoe geseënd ons is.
Ek sien ongelooflik uit daarna om weer al die ou skoolvriende te sien.