Last updated on Julie 30th, 2025 at 04:08 nm

#60 ~ Adèle van Biljon

#60 ~ Adèle van Biljon

“I walk (and dance) to the beat of my own drummer.” Só interpreteer ek die bekende idioom van Henry David Thoreau: “If a man does not keep pace with his companions, perhaps it is because he hears a different drummer.”

Ek is gebore in die dorpie Heidelberg in die ou Transvaal — vandag se Gauteng. My skoolloopbaan het begin met kleuterskool in Yankee Ridge Elementary in Urbana, Illinois (VSA), waar my pa aan die universiteit verbonde was. Ek het die eerste drie jaar van laerskool by Menlopark voltooi, daarna weer ’n jaar in Urbana. Ons het as gesin wyd gereis en gekamp — van DC tot Gettysburg, die Grand Canyon tot Yosemite, Niagara-valle en selfs Montreal. Dit het tot kosbare familieherinneringe gelei.

Na ons terugkeer na Suid-Afrika het ek my laaste drie laerskooljare by Laerskool Lynnwood voltooi, saam met my niggie, Biebie. [Ek het in dié tyd ook kunsklasse by Tannie Erika (Annelie Rabie se ma) geneem — sy het my geleer hoe swart kneusplekke op ’n piesang dit “meer eg” maak.]

Tuis het my pa ons liefde vir lees en algemene kennis aangevuur — etes was dikwels vergesel van vinnige vraespel-sessies. Atlasse en een aardbol was deurgaans goed benut. Trivial Pursuit het later ‘n familie-gunsteling geword.

Klassieke musiek het die agtergrondklank in ons huis gevorm. Ek het klavier- en kitaarlesse geneem, geïnspireer deur my pa en Ouma Betty — albei begaafde pianiste. Ons het dikwels Sondae ná ete saam gesing — van FAK-liedere tot ou “crooners”.

Baie van dié familietradisies het tot stilstand gekom na my oudste broer, Werner (14), op 10 April 1969 met sy fiets voor Marius Loots se huis geval het. Gerhard, Marius se jonger broer en ‘n kranige atleet, het gehardloop om my ouers te roep. Werner was drie maande lank bewusteloos en is later blind en gedeeltelik verlam. Die arbeids-, fisio- en spraakterapeute het later soos familie gevoel. Ons het hom vir tien jaar tuis versorg. Hy is in 1984 oorlede. [My jongste dogter is toevallig op 10 April gebore.]

Boeke is steeds ons familie verslawing — enige genre. Selfs op seevakansies het ons by biblioteke aangesluit. Exclusive Books voel soos hemel op aarde, al verkies ek, soos my pa, liewer tweedehandse boekwinkels.

My ma het mode-ontwerp studeer, ek het vroeg leer klere maak, en my jongste dogter het dieselfde pad gevolg. My oudste het drama geneem op skool en later film geswot. Albei het hulle skoolloopbaan by Menlopark begin en by Pro Arte voltooi.

Die kreatiewe geen loop diep in ons familie. My ma het alles van pottebakkery tot juwele gemaak. My pa was ‘n ingenieur en het in die 60s vir ons Mid-Century geïnspireerde meubels gemaak en my broer (ook ‘n ingenieur) sit die tradisie voort met sy moderne meubelreekse van dieselfde styltydperk. My pa was ook ‘n uitmuntende fotograaf en my suster volg in sy voetspore. Ons het digters, skrywers, sangers en selfs komponiste in die familie. Skilders is, Oupa Faan, Oom Fanie (Bibi se pa) en my pa.

Ek was vas oortuig ek sou ’n argitek word, tot ek ’n unieke een-tot-een beeldhouwerkswinkel kon bywoon aangebied deur Joàn Couzyn — ’n tydgenoot van Anton van Wouw en mentor van Cecil Skotnes. Onder sy leiding het ek ’n klei-borsbeeld van die digter A.D. Keet gemaak en in gips gegiet. Ek is steeds trots op daardie stuk wit gips.

Daardie ervaring het my besluit bevestig om BA Beeldende Kunste te gaan studeer, met beeldhou as hoofvak. Ek het o.m. ‘n klei-kopbeeld van Lincoln (‘n klasmaat) gemaak en het  karsuiers (“pistons”) stukkend gekap en die metaal gesmelt, en die “lost-wax” proses gebruik om die beeld te giet — onvergeetlik. Ek het selfs geleer sweis om deel te neem aan ‘n Afrox-kompetisie.  Selfs ‘n mini-ontploffing gehad toe ek die aseteleen en suurstof verkeerd om oopgemaak het. My pa was nogal (erg) ontsteld, veral na my professor so ewe vir hom gesê: ‘We have never lost a student’, waarop my pa se droë antwoord was “Not yet…”

Later het ek African wonderklip ontdek. My honneursuitstalling was abstrak, tot Joàn se teleurstelling, hy was pro-realisme. Ek was bevoorreg om Edoardo Villa as eksterne eksaminator te hê. My voorkeur is nog steeds abstrak of sterk gestileerd en my inspirasie is klippe en klipformasies, wat vir my ‘n konneksie is met die geologiese bloed in die familie; beide my Oupa Faan en Oom Willem was geoloë van formaat. Klip is my medium.

Loopbaan

Ná my twee dogters se geboorte het ek toevallig in ontwerp en reklame beland — begin as bemarker van ’n nuwe ontwerpateljee, later gevorder tot projekbestuurder en ontwerper by verskeie agentskappe, gemeenskapskoerante en drukkerye. Ek was ook personeelkonsultant, het navorsing en bemarking vir ’n IT-maatskappy gedoen en administrasie bestuurder, bemarker en ontwerper by ingenieurskonsultante.

Daarna het ek sowat 12 jaar klasgegee by privaat tersiêre ontwerpkolleges — van visuele kommunikasie, kreatiewe denke tot bemarking. Ek het selfs handleidings geskryf. My studente het vroeër as ons generasie besef dat balans tussen werk en speel noodsaaklik is.

Ek was sowat 30 jaar lank ‘n vryskut grafiese ontwerper en het ‘n uiteenlopende kliëntebasis opgebou. Dit was ongelooflik bevredigend alhoewel soms intens met sperdatums en baie min slaap.

Vandag

Ek is tans op ’n ekstra lang gap-jaar en kuier gereeld by my jongste dogter in Kaapstad, my oudste dogter, skoondogter en kleindogter in Los Angeles, en my suster in Sydney. My broer bly net 700 meter van my af — geen visum nodig nie.

Tussen hierdie kuiergeleenthede het ek my jongste dogter gehelp met ’n sementstoelprojek, ’n skoenmaakkursus voltooi, en ’n beeldhou-werkswinkel by Veda Hallowes (Joàn se dogter) bygewoon. Ek het in 1976 saam met haar tyd in Londen deurgebring, en ons het in 2024 weer kontak gemaak tydens my oumagrootjie se grafsteenlegging — byna 50 jaar later.

My trots en kontinu inspirasie

  • Eileen (dogter): filmredigeerder in LA, het onlangs gewerk aan Seisoen 4 van Lincoln Lawyer. Sy’s ’n minimalistiese denker: Think about it and figure it out.
  • Reanne (skoondogter): musiekredigeerder en ‘n “whiz” op ‘n saksofoon, en maklik herkenbaar met haar blou hare.
  • Kleindogter: Ouma se hart — sy het pas kleuterskool voltooi en begin nou pre-K. Sy praat vlot Mandaryns.
  • Eloise (dogter): ontwerper en kunstenaar in Kaapstad. Sy is my natuurkind – staptoere en buitelewe is haar energiebron.

[Terloops my kinders was in Jeannemarie se kleuterskool]

Algemeen

Ek het ‘n ongelooflike skaaphond, Pixel. Sy kom roep my as die ketel kliek, die roosterbrood spring, die mikrogolf pieng of my selfoon lui. Sy weet ek hoor (glad) nie goed nie. Ek is nuuskierig wat sy gaan doen as ek my nuwe fluitketel begin gebruik!

Ek is ’n kompulsiewe leser en versamelaar van boeke, boksies, klippe, bene en alles wat my aandag trek. Ek neem graag foto’s van geboue — moontlik ’n uiting van my argiteksdroom. Vir my is geboue funksionele beeldhoukuns — Frank Gehry se Walt Disney Concert Hall is ‘n voorbeeld.

Ek het twee duo-uitstallings gehad — een in die vorige eeu (beeldhou) en een in hierdie eeu (skilder).

Maar, wat my tans die besigste hou is Swedish death cleaning. Ek pak my huis van 36 jaar op met die doel om met die minimum Kaapstad toe te trek. Ek sien uit daarna om elke dag Tafelberg te sien, en om saam met my Kaapse vriende te kuier.

Ek sien geweldig uit om almal te sien in September en waardeer elkeen se storie, en is telkens uitgeboul oor wat almal gedoen en deurgegaan het. Ons het baie uitgemis van mekaar op skool.

Liefde en groete uit Menlopark.