#58 ~ Suna (van Rensburg) Volschenk

#58 ~ Suna (van Rensburg) Volschenk

Ek was slegs twee jaar in Menlopark, maar het goeie tye gehad en kosbare maats gemaak.

My vier jaar op universiteit was heerlik – met lang ure se werk in die Meet and Eat om vir al die lekkerte te betaal.

Na Tukkies (waar ek my man, Hennie, ontmoet het), het ek vir ’n paar jaar skoolgehou – selfs ’n draai gemaak in Menlopark, waar ek vir ’n paar maande in mnr Potgieter se plek Rekeningkunde gegee het.

En toe tref die lewe my: vier kinders, plaaslewe, ’n professionele man met ’n passie wat nooit ophou nie, ’n kitsgrasbesigheid, Ile de France-skape, beesboerdery, perde, bosveldplaas, Afrika-trips en avonture, siektes met lang hospitaaltye, staptoere, gastehuise begin en bedryf, en toe die plaas op Stilbaai.

Tussen Pretoria en Stilbaai het ons met ’n boerdery begin wat iets besonders in ons albei wakker gemaak het – olyfboerdery. Ons het heel van voor af begin: van bome plant tot waar ons nou is. Ek het geblom – begin speel met die olywe. Tref en trap. Van niks weet, tot soveel as moontlik leer. Ons olie was van die begin af ’n wenner, en dit het alles makliker gemaak.

Ons het uiteindelik Stellenbosch toe geskuif nadat al my kinders deur Laerskool Donkerhoek en Menlopark is, en my oudste drie (dogters) in Menlopark gematrikuleer het.

My seun het toe by Paul Roos ingeskryf.

Ons woon nou al 21 jaar in Stellenbosch en bring al hoe langer tye op Stilbaai deur. Ons reis, stap, boer – is elke dag nog betrokke by die plaas (administratief én fisies) en probeer gesond bly – waarvan my glas rooiwyn elke aand ’n groot deel is.

 


Al my kinders is getroud en ek het tien kleinkinders, waarvan agt hier in Stellenbosch is!

Dis ’n jolige affêre.

Ek is tevrede.