#56 ~ Karen Nelmapius (Nappie)

#56 ~ Karen Nelmapius (Nappie)

Laat ek wegval deur te sê: I did not see this life coming!

Nietemin, my loopbaan in ’n neutedop:
• Ek is weggejaag by my eerste werk.
• Ek het gehuil toe ek weg is by my tweede werk.
• Ná aanvanklike satisfaksie, is ek amper gebreek deur rasgedrewe ideoloë tydens die staatskapings van SARS.

In die relaas wat volg, deel ek tog ’n paar grepe uit my ontstuimige lewe na matriek.

My universiteitsdae aan die Universiteit van Stellenbosch het hoofsaaklik bestaan uit besoeke aan die see saam met my surfer-kêrel, waar ook al die branders ‘die beste’ was – luilekker dae in die son van Yzerfontein aan die Weskus tot Kommetjie en Kogelbaai vir dag-uitstappies. Ons het selfs een jaar van Stellenbosch na Jeffreysbaai geryloop vir ’n vakansie. Lekker sorgelose dae. Ek kan nie sê die akademie was ’n belangrike dryfveer nie.

Ek het ná vier jaar teruggekom Pretoria toe (met ’n driejaar-graad) om die ‘grend’, nuut gevestigde beroep van ‘skakelbeampte’ te kom volg. Ná ’n diploma in Skakelwese aan die Skakelwese Instituut van Suid-Afrika (PRISA) het ek werk gekry by Volkskas, wat my kort daarna na Port Elizabeth (Gqeberha) verplaas het om die bank se toetrede tot die Visa/Mastercard-mark in die Oos-Kaap bekend te stel. Hoewel ek ingetrek het in my nuwe woonstel met net ’n koffer klere (What was I thinking?), het ek my tyd in dié vriendelike stad baie geniet. Ná sowat ’n jaar en ’n half het ek egter bedank en teruggekom Pretoria toe omdat die pos weinig meer as die werk van ’n verkoopsteenwoordiger behels het. Ek was verveeld.

Ek is die volgende maand weer aangestel by Volkskas ná ’n gesprek met die personeelhoof oor kommunikasie in sy organisasie – dié keer as redakteur van die personeelblad. Sonder enige ondervinding, het ek gewerk onder die leiding van ’n briljante middeljarige swerwer, wat vertaal- en skryfwerk op ’n vryskutbasis gedoen het vir ’n lewe. Hy was eksentriek, maar ’n wonderlike mentor wat ’n groot invloed op my vorming gehad het. Raak nou nog nostalgies as ek dink aan die Vrydagmiddae toe ons die blaaie uitgelê het van Die Kasser oor ’n bottel Tassenberg. Ek het die grondslag van joernalistiek by hom geleer, terwyl sy onkonvensionele leefwyse my diep beïndruk het.

Die einde van my agt jaar lange verhouding met my kêrel in die middel-tagtigerjare was traumaties. My sielkundige het later vir my gesê Jack Parow het ’n liedjie vir my/oor my geskryf oor dié tyd van my lewe; Katerien. Ek en Chris het kort daarna begin uitgaan en ons is nog steeds saam, al is ek die afgelope twintig jaar vies vir hom omdat ek eerder huisvrou as broodwenner wou wees. Ons het twee mooi, slim dogters.

Terwyl my joernalistieke vaardighede ontwikkel het, het ’n swakker wordende verhouding met die pale male Broederbond-base by Volkskas gegroei. Ek het selfs een laat-aand – uit woede en frustrasie – in die potplant gaan piepie in die kantoor van die bemarkingshoof. Die epiese stryd tussen my en my oppergesag het uiteindelik ontplof in ’n woedende knierefleks van my kant, waartydens ek ’n ongemagtigde en venynige ‘afskeidsboodskap’ in die nasionale nuusbrief gepubliseer het. Dit was in die kol! Volkskas was op hol. Treine is gestop om die spesifieke weergawe te herroep, en ’n nuwe buiteblad – sonder die boodskap – te laat herdruk. Ek is tien minute gegee om pad te gee van die perseel.

Ek kan waarlik sê joernalistiek het my lewe gered. Woedend vir wit mans en gekneus van my pas afgelope ervaring by Volkskas, is ek in my groen paneelwaentjie Kaap toe waar ek by Die Burger se nagkantoor ingeval het. Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel) het dieselfde middag daar begin werk. Ons het ’n hegte vriendskap ontwikkel en dikwels tot laat in die nag (vroeg in die oggend) gelag en gehuil oor Suid-Afrika, sy mense, en die politiek. Ons het dikwels ná werk gaan jol in die klubs van Seepunt, soms gekuier tot die son opkom, voordat ons ’n slapie gaan vang het voor ons volgende skof om twaalfuur begin het. Wonderlike, sorgvrye dae.

By Die Burger het dit mettertyd ingesink dat jou waarde nie geken word aan wat jy aantrek of doen of drink (of hoeveel) nie; die gehalte van jou werk het saakgemaak. Dit was ’n bevrydende ontdekking. By Ralph, wat vroeër van die Potchefstroomse Universiteit na die Universiteit van Kaapstad is om ’n nagraadse kwalifikasie te verwerf, het ek ook geleer dis nie net wit Afrikaanse mans wat arrogant is nie; “Die Engelse is net so!” Só het lewenslesse een vir een ’n tuiste gevind.

Ek is op eie versoek oorgeplaas na Beeld in die middel-tagtigerjare. Politiekgewys gevaarlike jare, maar ons het baie pret gehad op kantoor. Ek kan onthou hoe ons backgammon gespeel het: beginnende by ’n spel van die beste uit vyf, maar wat soms geëindig het by die beste uit honderd! Ons het saam met die advokate van die Hooggeregshof oor lang middagetes trinchado’s gaan eet by The Hole in One in Kerkstraat-Wes, en speletjies gespeel soos wie kan daarin slaag om eerste spesifieke vreemde woorde in hul stories in te werk, soos “vrot eier”. As misdaadverslaggewer het ek geleer om van polisiemanne te hou soos kol. Suiker Brits van die Pretoriase Moord-en-Roof-eenheid, en met die befaamde rugbyskrywer Quintus van Rooyen in die ronde, gou ’n vurige Blou Bul-ondersteuner geword!

Van my tyd by die Hooggeregshof onthou ek stories soos die verhoor van die Wit Wolf (Barend Strydom), wat later ’n persoonlike brief aan my laat smokkel het uit die galgkamer. Die nuus van sy verlowing aan ene Karin Rautenbach van Brits was een van my grootste scoops. Dit het wêreldwyd opslae gemaak. Mettertyd het ek my begin toespits op ernstiger politieke verslaggewing en in 1992 as ’n gesaghebbende gesondheids- en senior ondersoekende joernalis uit Beeld se diens getree om op 34-jarige ouderdom geboorte te gee aan ons eerste dogter, Simone.

Sowat tien jaar as vryskutjoernalis het gevolg, waartydens ons tweede dogter, Gabrielle, in 1997 gebore is. In 2003 het ons hiper-intelligente, humoristiese en dierbare vriend Ferdie Kriek sy lewe geneem. Dit was ’n harde slag vir ons vriendekring en ons mis hom nog steeds.

Op uitnodiging van die struggle-held Ivan Pillay, Adjunk-Kommissaris van SARS en hoof van nakoming by dié organisasie, het ek by SARS aangesluit om ’n nuusbrief uit te gee. (Ons dogters was vriendinne by Irene Primary.) Ek het die kommunikasie-hulpbron geword in sy kantoor en vir SARS se ondersoekspan na onwettige gedrag en noemenswaardige nie-nakoming van belastingverpligtinge.

As lid van die ondersoekspan het ek talle interessante optredes meegemaak. Dit het onder meer bestaan uit die deursoeking en beslaglegging van dokumente en rekenaars by eiendomme en besigheidspersele van verdagte belastingontduikers. Een operasie wat ek goed onthou, was die deursoeking van ’n Teazers-perseel van die befaamde Lollie Jackson in Johannesburg. Ek het van die geleentheid gebruik gemaak om om die paal te dans terwyl ywerige kollegas hul toegespits het op die forensiese deursoeking van dokumente en rekenaarinhoud! Jackson was ’n gawe ou – het my selfs die versekering gegee dat hy kliënte sal vind wat mal sal wees oor my lyf as ek vir hom kom werk. Sy handtekening pryk in my kopie van sy outobiografie. Ek was hartseer die dag toe sy makkers hom met ’n skoot in die rug uitgehaal het.

Vuilspel by SARS het begin namate die ondersoekspan groter en beter geword het en ’n toenemende bedreiging vir belastingontduikers geword het. Veral die sigaretbedryf het alles in sy vermoë gedoen om SARS se reputasie te bevlek. Disinformasie oor ’n sogenaamde Rogue Unit in SARS het groot nuus geword met ernstige nagevolge. Dit het saamgeval met die aanstelling van Tom Moyane, ’n Zuma-vertroueling, met die opdrag om SARS te kaap, soos later bevestig is deur getuienis voor die Nugent-kommissie van Ondersoek na Kaping by SARS.

Die laaste tydperk van my loopbaan by SARS was traumaties. Moyane het onbevoegde, rasgedrewe ideoloë in bestuursposisies aangestel, wat gelei het tot ’n uittog van talle uitstekende ondersoekers en ouditeure. Ons was geïntimideer en ondervra, ons rekenaars is deursoek en ’n toksiese, rasgedrewe atmosfeer is gevestig wat sedertdien die botoon voer. Ek het my werk behou deurdat daar niemand anders was met die vaardigheid om daagliks ’n nuusopsomming en -interpretasie vir die hoofbestuur te kon opstel nie.

Die afgelope sowat vyf jaar versorg ek my 98-jarige ma wat aan demensie ly, en ’n mens grotendeels by die huis hou. Ek het oor dié tyd mettertyd al hoe meer inwaarts gekeer tot so ’n mate dat ek eintlik opgehou het om met vriende te kommunikeer. Dit het sy tol geëis.

Ten slotte, weereens ’n groot dankie aan die reëlingskomitee vir jul harde werk en professionele uitsette. Sien uit daarna om almal weer in September te sien.