Ek was van Graad 1 tot Matriek in Menlopark. Ek het baie mooi herinneringe aan my skooldae.
Na skool het ek Sielkunde by Unisa probeer studeer, maar dit was nie vir my nie en ek het nie die kursus voltooi nie.
Daarna het ek by Argiteksdienste vir die Staat begin werk. Ek het toe die potensiaal gesien vir staatskontrakte in spyseniering. Kosmaak was nog altyd my passie. Ek het ’n tuisnywerheid in die middestad van Pretoria begin, waar ek later ook buffet-etes aangebied het. Ek was gelukkig genoeg om die staatskontrakte vir hul spyseniering te kry—van gebak tot volledige maaltye vir vergaderings. Ná 1994 het die Staat meer begin bestee aan etes. Dit was ’n dankbare en gelukkige tyd in my lewe.

My man en ek het later ook ’n restaurant bedryf. Dit was harde werk!
In 2010 het ons albei besighede verkoop en na ’n plot buite Cullinan verhuis—’n pragtige vallei met asemrowende natuurskoon.
Ons het ’n industriële kombuis, bakkery en slaghuis met koelkamers gebou. Daar was groentetuine, pekanneutbome en byekaste. Ons het albei chef-kursusse voltooi en dit baie geniet. Ons het spyseniering gedoen vir troues, reünies, jaareindfunksies, die SA Wildsvereniging se dinee, spitbraaie, ensovoorts. Ek het ingelegde produkte gemaak, gebak en gekook dat dit klap! My man het wild verwerk vir jagters. Ons het ook kos voorsien aan twee liefdadigheidsorganisasies: Huis Shama en Refilwe Orphanage Home, waar ons hulle selfs geleer het om groente te plant. Dit was seëningryke, besondere jare.
In Mei 2019 was ons die slagoffers van ’n plaasaanval—’n gebeurtenis wat ons lewens onherroeplik verander het. Ons het teruggetrek Pretoria toe. My man was toe reeds ernstig siek.
Gedurende Covid het ek aanlyn Au Pair-werk gedoen met ’n reispermit, terwyl skole gesluit was—iets heeltemal buite my veld.

My man is in Mei 2021 oorlede. Ek het aanhou Au Pair doen tot einde 2024, waarna ek begin het om kinders en bejaardes per Uber te vervoer. Ek het ook begin waterverf skilder en tuinmaak, iets wat ek baie geniet. Ek sukkel nog ’n bietjie met die aftreefase, maar waardeer die vrye tyd.
My dogter Michelle het in Stellenbosch studeer en daarna in Londen gewerk. Daar het sy haar Afrikaanse trouman ontmoet. Hulle het na Perth verhuis en het nou drie kinders. Ek kuier so gereeld as wat ek kan, maar ek verlang baie. Ek en sy het gelukkig tyd gehad om saam te reis voordat sy getroud is—kosbare herinneringe.
Ek sien baie uit daarna om almal weer by die reünie te sien. Ek geniet die briewe en geselsies vreeslik baie.