Last updated on Julie 9th, 2025 at 01:04 vm

#52 ~ Santie (Barnard) van den Heever

#52 ~ Santie (Barnard) van den Heever

Dit was vir my heerlik om almal se stories te lees.

So kon ek terugkyk en matriek weer ’n bietjie herleef, inspirasie en moed vind om my eie storie te deel. Ek was ’n Ma-Plotter, het baie arm grootgeword en ver van die skool af gewoon. Ek kon nie altyd aan sport of aktiwiteite deelneem nie.

Matriek was vir my ’n baie moeilike jaar. Ek was gereeld siek en is vier of vyf keer gedurende die jaar gehospitaliseer. Tesame met my siekte is my pa ook kort-kort in die hospitaal opgeneem weens ernstige hartprobleme. Deur groot genade en seëninge het my pa dit nog ’n paar jaar oorleef, en my mediese probleme is uiteindelik op 21-jarige ouderdom opgelos.

Na matriek het ek by die destydse Volkskas begin werk vir ’n paar maande, waarna ek genooi is vir ’n onderhoud by die Nasionale Intelligensiediens. Ek het toe ’n pos daar aanvaar. Hier het ek my man, Johan, ontmoet—my wonderlike eggenoot. Ons is getroud en was aanvanklik in Pretoria gestasioneer. Daarna is ons na Parys, Frankryk verplaas, waar Johan verbonde was aan die ambassade (ek het selfs ’n paar klasmaats daar raakgeloop).

Later is ons terug Suid-Afrika toe, en was vir vyf jaar in Kaapstad gestasioneer.

 

 

In 2000 is ons die geleentheid gegun om ’n maatskappy oor te neem wat landmyne en ongeëxplodeerde ammunisie, oftewel “UXO’s,” verwyder. Ons is steeds betrokke by werk in onder andere Angola, DRK, Kongo en Soedan. Johan doen al die harde werk in die veld, terwyl ek die finansiële en administratiewe sake hanteer.

Net om dit te beaam: Afrika is nie vir sissies nie.

My man was op pad van Kaïro na Soedan toe sy visum daar ’n probleem veroorsaak het (alles in Arabies). Hy is summier gearresteer en sonder kontak met enigiemand teruggestuur Kaïro toe. Hy was vir drie dae vermis. In Kaïro is hy aangehou en ondervra deur die Egiptiese intelligensiediens weens sy agtergrond. Op die derde oggend is hy toegelaat om my te skakel en te laat weet dat hy die volgende oggend terug Suid-Afrika toe sou vlieg.

Terwyl ons maatskappy in die DRK werksaam was, is twee van ons werknemers wat in ’n konvooi gereis het, deur M23-rebelle aangeval. Een kon ontsnap; die ander is gevange geneem. Die Burger in Kaapstad het die storie gepubliseer en Johan is verkeerdelik as die gevangene geïdentifiseer. Ons hele familie en vriendekring was in rep en roer. Met baie gebede en genade is ons werknemer binne twee dae, ná intense onderhandelinge, vrygelaat.

Ons is geseënd met ’n dogter en seun, en drie pragtige kleinseuns. My dogter is ’n onderwyseres in Nieu-Seeland, en my seun werk saam met ons in die maatskappy.

Ek hoop, indien ons veldwerk dit toelaat, om die reünie te kan bywoon.