Last updated on Junie 30th, 2025 at 06:29 nm
Ek het eers in standerd 9 by julle aangesluit. Ons het in 10de Laan oorkant die Laerskool gebly.
Na skool het ek my algemene verpleegopleiding by die HF Verwoerd Hospitaal begin. My kraamopleiding het ek van 1980 tot 1981 by 1 Militêre Hospitaal voltooi, in die dae toe die ou hospitaal nog daar was. Gedurende hierdie tyd het ek met Jasper getrou, wat kapelaan by 1 Mil Hospitaal was. Ons het in Voortrekkerhoogte gewoon.
Vanaf 1981 tot 1984 het ons in Musina gewoon, waar Jasper as kapelaan gedien het. Ek het in dié tyd by Musina Hospitaal gewerk. Daarna het ons na Vereeniging verhuis, waar Jasper as predikant gewerk het. Ek het by Mediclinic en Midvaal Hospitaal diens gedoen. Ek het my teatertegniek voltooi en was vir sowat 26 jaar ‘n skropsuster in die ortopediese teater, asook ‘n kliëntebestuurder. Gedurende hierdie tyd het ons gereeld na Botswana gereis en ongelooflike ervarings gehad.
Na Vereeniging het ons ‘n groot skuif gemaak na die Oos-Kaap, na die dorpie Loerie — ‘n klein plekkie in die pragtige Gamtoosvallei. Na ‘n jaar as huisvrou en tuinier het die werklus my weer beetgekry en ek het ‘n pos by die Departement van Gesondheid as suster by die Loerie Kliniek aanvaar. Dit was ‘n groot aanpassing van die skoon, georganiseerde teaterwêreld na ‘n landelike kliniek — ‘n ware kultuurskok! Ek het my egter vinnig aangepas, en dit het een van die mees vervullende tydperke van my loopbaan geword.
Na vier jaar het ek ‘n pos as NCD (Non-Communicable Diseases) Bestuurder in die Kouga-subdistrik aanvaar. Hierdie rol het my op ‘n merkwaardige ontdekkingsreis geneem en my na 26 klinieke, vier hospitale en vyf ouetehuise geneem. My gebied het gestrek van Humansdorp tot Coldstream in Tsitsikamma, Kareedouw tot Misgund in die Langkloof, en die Sondagsriviervallei — insluitend Addo en Kirkwood. Gedurende hierdie tyd het ek ook my diploma in Verpleegadministrasie voltooi — in my 60ste jaar! Ek het nooit gedink ek sou weer lus wees om te leer nie.
Tydens die COVID-19-inperking was ek gelukkig om steeds te kon werk. Ons het van huis tot huis gegaan — shack na shack — om voorligting te gee, mense te toets en padblokkades te beman. Elke voertuig wat oor die provinsiale grens beweeg het, moes stop en die passasiers is getoets. Dit was ‘n nagmerrie. Daar is baie stories — soos dié van die taxi waarin ‘n lyk regop tussen die passasiers gesit is, in die hoop dat dit nie sou opval nie. Die persoon is in die Wes-Kaap oorlede, maar moes in die Queenstown-/Transkei-omgewing begrawe word.
Drie jaar gelede het ek “afgetree” en ons het na St. Francisbaai verhuis — ‘n ware paradys. Tot vandag toe woon ons hier, waar ons nuwe herinneringe skep. Ek werk steeds — tans by ‘n dokter se praktyk in die noodkamer, waar ek alles doen wat nodig is.
Om by die see te woon is op sigself ontspanning, maar ek geniet dit om lang ente te gaan stap, rolbal te speel (as die wind nie te erg is nie) en ek hou my besig met plantjies en ander eenvoudige plesiertjies.

Ons is geseën met drie pragtige kinders, elkeen uniek en merkwaardig op hul eie manier.
Adriaan, ons oudste, woon in Mauritius waar hy sy eie maatskappy besit wat spesialiseer in internasionaal gestruktureerde beleggings- en maatskappyoplossings.
Anje, ons middelkind, woon in Parys in die Vrystaat. Sy bestuur Val de Grace, ‘n privaat landgoed en gholfbaan. Sy is ook die enigste van die drie wat vir ons ‘n kleinkind gegee het – Frederik, wat tans in graad 11 is by Grey Kollege in Bloemfontein.
Chrisna, ons jongste, woon in Henley-on-Klip naby Meyerton. Sy speel ‘n sleutelrol in ‘n logistiek- en masjinerieverskaffingsonderneming, waar sy die bemarking- en IT-departemente bestuur.
Elkeen van ons kinders het ‘n unieke pad gevolg, en hulle bring soveel vreugde, trots en betekenis in ons lewens. Ons is ongelooflik dankbaar vir wie hulle is — en Frederik is vir ons almal die kersie op die koek.