#45 ~ Anne (Bird) Louw

#45 ~ Anne (Bird) Louw

Ek is nie seker wat die impak of belangrikheid van ’n mens se skooljare op latere lewe is nie. Al drie my kinders behou na al die jare steeds hegte bande met vriende wat hulle op skool gemaak het. Ek het myself van daardie voorreg ontneem toe ek besluit het om in Stellenbosch te gaan studeer omdat ek daar vir medies gekeur is.

Medies, sal julle vra? Ja – ’n absolute katastrofe! Ek het net drie maande uitgehou en dit toe laat vaar. Met ’n gekneusde ego en ’n vaste oortuiging dat ek tot niks beters in staat is nie, het ek die volgende jaar teruggegaan universiteit toe en drie jaar later ’n BA-graad in Frans en Engels verwerf.

Ná ’n jaar by die Uniegebou vir Buitelandse Sake het ek vinnig besef dit is ’n doodloopstraat (duh!!!) en het ek by Tuks vir ’n LLB ingeskryf. Tussen trou en drie kinders het ek in 1990 my passie ontdek vir doseer en vir Familiereg, toe ek in die Privaatregdepartement as junior lektrise aangestel is. “And the rest, as they say, is history.”

Ek het twee jaar gelede, ná meer as 30 jaar, afgetree uit my pos by UP en woon nou in die enigste “slow town” in Suid-Afrika: Sedgefield, ook bekend as “the gateway to heaven”.

As ek terugdink aan my skooljare, is my oorheersende gevoel een van afwesigheid – beide fisiek en geestelik. Soos Plankie dalk onthou, was haar huis (die naaste aan die skool) ’n gereelde toevlugsoord. Ek kan nou nog nie glo met watter gemak ons so dikwels doodluiters net by die hek uitgeloop het sonder dat iemand ons probeer keer het nie.

Die enigste klasse wat ek vaagweg onthou, is my Engelse klas en Mnr Schreuder wat my gevra het: “To sing your prose, Bird,” en Mendel se wette van oorerflikheid uit my biologieklas.

Behalwe vir my gereelde fisiese afwesigheid van die skool, was my kop ook meestal elders en vol muisneste. Ek het altyd met ouens uitgegaan wat heelwat ouer was as ek, en het uiteindelik getrou met ’n man wat 12 jaar ouer is. Hy word volgende jaar tagtig.

Behalwe vir Ingrid en Nampie, was Biebie van Biljon (Adele se niggie) deur al die jare my boesemvriendin. Ons het nie kontak gehou nadat sy Australië toe is nie. Ek onthou ook kuiers saam met Maudie, Odette, Nuts en Nkwe.

Ek is nog besig om gewoond te raak aan die aftrede-ding. Ek mis die intellektuele stimulasie wat ek by die universiteit gehad het, maar lees verwoed, doen pilates, line dancing, en stap elke dag ’n uur saam met Remi, my Duitse herdershond. Ek reis ten minste een keer per jaar oorsee na my dogter Ninon en haar man in Maastricht, en sorg dat ek sommer ’n paar ander plekke ook sien terwyl ek daar is.

As my dogter nie in September Suid-Afrika toe kom nie, sien ek julle by die reünie.