#28 ~ Lizette (van der Westhuizen) Kruger (Liza)

#28 ~ Lizette (van der Westhuizen) Kruger (Liza)

Hoe som ’n mens jou lewe tot dusver op?
Sewe sakke sout, sewe sakke suiker, avontuur, asook hartseer — maar ek geniet die reis nog baie. Soveel het gebeur tussen 1975 en 2025.

Julle ken my as Liza, maar my ouers , familie en vriende het my Lizette genoem, en ek is so getroud.  Vandag ken almal my as Lizette. Ek is een van vyf kinders en ons het in Lynnwood gewoon. My broer Gys (hy was twee jaar ouer as ek) is verlede jaar September, na ’n kort siekbed, skielik oorlede. Ek het nog drie jonger susters. My ma is 89 en woon naby een van my susters in die Wes-Kaap. Ons is almal wyd versprei: een woon in Saoedi-Arabië, een in Kanada, en ons tans in Australië.

Ek is getroud met Gustav en ons het twee kinders, Liezl en Gustav, beide getroud — Liezl met Paul en Gustav met Annalette. Ons het vyf kleinkinders: Liezl het drie en Gustav twee.

Ons het verlede jaar in Mei na Australië verhuis. Ons woon naby Brisbane in Moggill. Beide ons kinders woon ook daar saam met hul gesinne.

My man, Gustav, is ’n afgetrede vlieënier, en ons toer nou lekker rond. Uit die aard van sy werk het ons reeds baie wonderlike plekke gesien en beleef wat ons andersins nooit sou kon nie. Ons het lank in Somerset-Wes gewoon en daarna sowat vier jaar in Mosselbaai. Tans kuier ons in Suid-Afrika vir vyf weke en word besig gehou en behoorlik bederf deur familie en vriende. Eind-April beplan ons ook ’n kort besoek aan die Wildtuin.

Verder speel ek seker al vir 30 jaar gholf en was bevoorreg om op van die beste bane wêreldwyd te kon speel. Ek het selfs al drie volslae kolhoue geslaan! Ek geniet gholf baie — veral ook die sosiale kant daarvan — en speel steeds twee keer per week in Australië. Ek bly baie lief vir die natuur en kan myself nie uit die Wildtuin of bosveld hou as ek dit enigsins kan help nie.

Ons is dol oor kuier saam met vriende, en ’n goeie braai of vars seekosgereg is bo-aan ons lys van gunstelingsetes.

Ongelukkig sal ek nie die reünie kan bywoon nie. Ek is jammer daaroor, maar ek sal alles volg en hoop daar sal baie nuus, foto’s en name gedeel word.

Kom ons bly strewe na die hoogste, tot die einde toe!

Parkie-groete