Ek sal die 50 jaar sedert ons matrikulasie in vyf eenhede van tien jaar elk opdeel.
1975–1985
In hierdie tydperk het ek medies aan TUKS gaan studeer. In 1981 het ek my MBChB voltooi, gevolg deur my internjaar by Kalafong Hospitaal. Ek het in dié tyd ook met Adele Pretorius getrou. Soos alle jong mans van daardie tyd, het ek twee jaar diensplig gedoen – eers basiese opleiding by Klipdrif in Potchefstroom, en toe die res van die tyd as mediese offisier by Hoedspruit Lugmagbasis. Ons het daardie twee jaar in Suikerkop, ’n privaat wildtuin van die Lugmag, gewoon. Na die diensplig het ek ’n privaat praktyk in Bethal gekoop en daar begin praktiseer as algemene praktisyn (GP). Adele is ongelukkig in ’n motorongeluk oorlede. Teen daardie tyd het ons reeds twee kinders gehad – Francois en Jacques.
1985–1995
Ek het in hierdie tyd vir Therese Holzhausen ontmoet en ons is in 1987 getroud. Ons het nog twee seuns gehad terwyl ons in Bethal gewoon het – Louis en Renier. In 1994 het ek ’n praktyk in Kaapstad gekoop, en sedertdien woon ons in die Kaapse City Bowl – eers in Oranjezicht, later in Tamboerskloof.
1995–2005
Gedurende hierdie tydperk was ek sterk betrokke by die kinders se skoolaktiwiteite – by Jan van Riebeeck en Paul Roos Gimnasium. Ons het toe ook ’n dogtertjie gehad, Charlotte, wat in 1998 gebore is. Ek het op tye gelocum in Kanada, Ierland en Engeland. Therese het ’n villa-verhuringsmaatskappy begin.
2005–2015
Die seuns het oor hierdie dekade een vir een die huis verlaat. Charlotte was toe op Bloemhof Hoër Meisieskool in Stellenbosch. Die seuns het later hul eie paaie gevolg na Calgary, Kopenhagen, Amsterdam en Londen. Ek het my solopraktyk omgeskakel na ’n Medicross-kliniek en drie vennote bygekry. Ons het twee kleinkinders in Calgary – hulle is nou agt en tien jaar oud.
2015–2025
Ek het weer begin studeer – eers ’n Nagraadse Diploma, en daarna ’n MSc in Diabetes aan Cardiff Universiteit. Dit was ’n merkwaardige leerervaring om ná soveel jare weer formeel te studeer, maar ek is dankbaar daarvoor, want ek gebruik dié kennis daagliks in my praktyk.
Charlotte het intussen ook medies begin studeer aan US, haar internjaar voltooi, en doen nou haar Zuma-jaar by New Somerset Hospital. Ek praktiseer steeds voltyds, maar assisteer op Vrydae met 3D-laparoskopiese gevalle. Ons bring die meeste naweke in Hermanus deur, waar ons ’n huis in Voëlklip het. Tuinmaak is ons stokperdjie. Ek hou van stap in die berge en het ’n besondere waardering vir fynbos ontwikkel.
Hiedie reünie word nie deur Menlopark Hoërskool gereël nie, maar deur n groep ’75 Parkies. Kontak ons by 1975parkiematrieks@gmail.com
Hoofseun/Hoofmeise: Jan Wium / Era (Senekal) Swanepoel | Nerine (Le Roux) Ahlers | Japie Bester | Annemarie (Loubser) Boer | Adele van Biljon | Susan (Aucamp) Fourie | Ingrid (Doms) Marais | Ingrid (van Rensburg) Steyn | Stefan Swanepoel | Marinda (Du Preez) Venter | Christel (van den Berg) Wood
© 2025 Parkies75 | All Rights Reserved | Last Updated 03/08/2025