#14 ~ Deon Eksteen

#14 ~ Deon Eksteen

Ek kan hierdie nie ‘n lewensverhaal noem nie, maar eerder ‘n kort opsomming van die laaste 50 jaar wat letterlik verby gevlieg het… meer soos ‘n X-strale verslag oor ‘n lig beseringspinkie – kort en bondig.

Na matriek het ek saam met Jan v d Merwe, Louis Botha en Ari Verburgh Medies gaan swot by Tuks en in 1981 gegradueer.

In 1982 het ek my internskap, oftewel huisdoktersjaar, by Garankuwa Hospitaal en Medunsa Universiteit voltooi.

In 1983 en 1984 het ek my twee dienspligjare by die SAW spandeer.

Ek het aanvanklik by die Departement Urologie gebly, maar het later gespesialiseer in Radiologie en het in 1992 na privaat praktyk gegaan.

Tydens al hierdie veranderinge is ek getroud met Rindia en saam het ons vier kinders gehad.

Ons oudste, Reza, is ‘n Bedryfsingenieur in Kaapstad en woon in Tamboerskloof saam met haar man. Hulle het twee pragtige klein dogtertjies – ons enigste kleindogtertjies tot dusver.

Ons oudste seun, Waldo, is ‘n Meganiese Ingenieur en werk tussen Qatar en Dubai. Hy is getroud met Romana, ‘n Kroatiese meisie wat pragtig en super oulik is.

Die middelste seun, Erlo, of “Takkie” (wat ‘n afkorting is vir Takalani, wat “om gelukkig te wees”), is ‘n loods. Hy en sy vrou, Angelique, wat ook ‘n loods is, vlieg vanaf OR Tambo en woon in Waterkloof, Pretoria.

Ons jongste seun, Deon, of Donna, is getroud met Michaela, ‘n Suid-Afrikaanse Nederlander, en hulle woon tans in Athene, Griekeland, maar is oppad na Malta. Deon is ook ‘n loods en Michaela is ‘n grafiese ontwerper.

As ek sê ons kinders is amazing, dan oordryf ek glad niks nie… en nie net omdat ek dit sê nie. Ons familie is “die sentrum van ons heelal.”

Hulle ma, Rindia, is die hoofdirigent in ons suksesvolle gesin en familie wat reël en organiseer dat ons gereeld bymekaar kom, ongeag waar ons is op die aardbol. Ons kinders is so mooi, want hulle lyk meestal soos hulle ma – kyk net na die fotos.

Ek en Rindia het in Mpumalanga gewoon waar ek by ‘n radiologie praktyk aangesluit het van 1993 tot 2023, dis 30 jaar.

Ons is deel van ‘n groot groep van 26 radioloë wat praktiseer in privaat hospitale, van Florakliniek in Johannesburg tot Nelspruit Privaat.

Ek en Rindia het besluit dat ek op 65 moet afskaal en ons sou in ons huis in Franschhoek wat ons al jare het, gaan aftree.

Rindia is intussen besig om ‘n 200 jaar oue huis in Paternoster op die Weskus te restoureer vir naweke en vakansies.

Tans woon ons meeste van die tyd in Paternoster weens die vriendekring, die rustige tempo, die see en die gebrek aan verkeer.

Ons is baie lief vir Franschhoek en die wynlande en woon steeds dikwels daar.

Om die oorgang van ‘n uiters besige praktyk na aftrede bietjie te temper, locum ek nog dikwels vir my ou praktyk waar ek 30 jaar betrokke was. Dit doen ek egter danksy tegnologie vanaf Paternoster en Franschhoek.

Die gesondheid van ons twee hou nog redelik goed “Touch Wood” en ek hoop dit bly so. Ek ry graag fiets, dit is ‘n e-bike, en ek spot altyd dat dit voel soos fietsry in graad 8.

Ons het ook twee pragtige Yorkie hondjies bygekry.

Ek hoop julle herken ons darem nog by die reünie!

Sien uit daarna om saam met julle te kuier.