Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:48 nm

#13 ~ Christel (van den Berg) Wood

#13 ~ Christel (van den Berg) Wood

Ons kan sekerlik elkeen ‘n paar boeke skryf  om te beskryf wat die afgelope 50 jaar in ons lewens gebeur het, maar ek hou dit kort en kragtig om net die essensie vas te vang:

Ek het direk na skool ingeskryf by Tukkies vir Bsc. Huishoudkunde( Voedsel en Voeding) . Dit is basies Dieetkunde en Huishoudkunde gekombineer  in ’n 4 jaar kursus.  In my finale jaar  is ek  toe getroud met Gilbert, ‘n elektriese ingenieur  en ons het gevestig in Pretoria.

Na voltooing van my kursus het ek by Pretoria Akademiese Hospitaal begin werk by die Chemoterapie  afdeling  en daarna by Departement Huishoudkunde waar ek vir ‘n paar jaar gewerk het, tot ons oudste dogter se geboorte. Die  volgende 8 jaar was ek ‘n tuisteskepper en  tydens die tydperk  het ons ‘n erf in ‘n nuwe uitbreiding van Pretoria gekoop,  huis laat bou en lekker gevestig.

Later, toe ons dogtertjie in graad 2 was, het ek besef dat ek baie belangstel om Dieetkunde as beroep te beoefen. In privaat praktyk sou ek soggens kon werk en steeds middae vir ons dogtertjie beskikbaar wees.

Dit het beteken dat ek nog ‘n jaar verder moes studeer, wat ek toe met die hulp en ondersteuning van my man en familie kon gedoen het. Met die Hospitaal Dieetkunde kwalifikasie kon ek toe my praktyk as dieetkundige open.  Dit was alles wat ek gehoop het sit sal wees en ek het my werk ongelooflik baie  geniet.

‘n Paar jaar later, nadat my praktyk goed gevestig was, het ons nog ‘n dogtertjie ryker geword. Groot vreugde en dankbaarheid het ons harte gevul.

Met verloop van tyd het, het my praktyk gegroei en het ek ons ons huis vergroot en deels as kantore begin gebruik.  Ek en my man het van daar af begin werk en doen steeds so vir meer as dertig jaar. Ek ondersteun my man met administratiewe en finansiele werk so hier en daar, maar is semi-afgetree. Ek was die afgelope jaar met langverlof wat my dieetkunde betref weens wonderlike vieringe in ons familie.

Altwee  ons dogters  is gegradueer en getroud en woon naby ons, wat ‘n seën en baie groot voorreg is. Ons het nou 2 kleindogters en geniet familie vakansies saam met ons kinders by die see , in die wildtuin en in die bosveld.  Ek en my man besoek graag van die mooi spesiale plekke in ons mooie land, waarvoor ons nie vroeer in ons lewe nie tyd gehad het nie. Ons was ook lank gelede in Amerika, waar ons heerlik by Stefan en Era gekuier het.

Ons  is dankbaar  en baie geseend dat ons nou 46 jaar getroud is en steeds heerlik woon en werk in Pretoria in die huis wat ons as jongmense laat bou het. Ons is dankbaar vir ons kinders, kleinkinders en familie wat ons lewens so mooi maak.