Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:46 nm

#12 ~ Hermann Krull

#12 ~ Hermann Krull

Na universiteit het ek verskeie poste in die Departement van Justisie en by die Suid-Afrikaanse Reserwebank beklee. Daarna het ek drie jaar by die Internasionale Monetêre Fonds in Washington DC gewerk, wat my oor die hele wereld behalwe Asië geneem het. 

Ek het te veel na Suid-Afrika en my kinders verlang, en teruggekom om tot my aftrede die regs- en ‘Compliance’ (nakomings-) funksies by twee banke te lei. Die dag na my aftrede het ek voltyds ‘n soortgelyke pos by n fintech-maatskappy aanvaar, wat my help om nie aan my ouderdom en ‘oudag’ te dink nie.

 Ek was getroud, en ons het ‘n wonderlike seun en ‘n dogter gehad wat tot vandag toe sin en betekenis aan my lewe gee. Boonop het ek in die afgelope ses jaar ‘n oupa van twee kleindogters en ‘n kleinseun geword, en soos die ander oupas en oumas weet, bring dit ‘n dimensie van vreugde en geluk wat  ‘n mens nooit sou kon voorsien of verstaan nie.

Wat nog? 

Ek het langs die pad deeltyds bank- en korporatiewe reg by drie universiteite doseer; vyf Comrades-marathonne en ‘n paar Two Oceans en Om-die-Damme voltooi; in my sestigs ‘n kat-bekeerde geword, en teësinnig heeltemal opgegaan in die voorstedelike lewe.

 

Die beste deel van my storie is egter dat ek deur al die suksesse, mislukkings, vreugde en hartseer oor die jare, ‘n tevrede en gelukkige mens  geword het.

Soos almal weet, maak al die mylpale wat die gemeenskap (en onsself, dikwels) vir ons stel, hoegenaamd nie saak nie. Die liefde, koestering en plesier van familie en nabye vriende is ’n beloning wat alle verstand te bowe gaan.

 

Ek sien daarna uit om al die ou gesigte weer te sien, en ‘n glasie of twee te klink op die noodlot wat ons bymekaar gebring het!