Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:43 nm
Ek het eers in standerd 8 (gee ons ouderdom weg—eintlik graad 10) ’n Parkie geword. Ek is skoon jaloers op julle wat almal selfs van laerskool af saamkom en mekaar so lekker ken. Maar hier is my storie!
Na matriek het ek ’n trotse PUK geword—vier jaar lank ’n graad en onderwysdiploma geswot en daarna ’n honneursgraad gedoen. Ek het die studentelewe voluit geleef! Ek en Nerine Ahlers (le Roux) was kamermaats in ons eerste jaar en het al die eerstejaar-manewales saam deurgemaak. Soms het ons Vrydagaande om 22:00 op Potch-stasie op die trein geklim om die naweek huis toe te gaan.
Op ’n dag in my vierde jaar ontdek ek dat ek eintlik al ’n jaar lank langs my trouman op die universiteitskoorbankie staan! Die probleem was—ek was ’n vierdejaar-oudame en hy ’n eerstejaarstudent met nog ses jaar se teologiese studie voor hom. Hierdie eerstejaarstudent moes aan die begin van dieselfde jaar push-ups doen omdat hy vir my, die prim en oudame van die koshuis, parmantig op my naam genoem het. Voor ek my heel laaste vraestel op die PUK skryf, het hy my daardie aand uitgevra om te “sleep”.
Ek het die volgende jaar skoolgehou op Westonaria, daarna by Wesvalia, en uiteindelik beland ek by Potch Gimmies, waar ek supergelukkig was. Toe kon ons in 1982 trou! Ná sy studies het Ben sy militêre diensplig as kapelaan in Pretoria voltooi. In 1986 is hy beroep na Kameeldrift Gereformeerde Gemeente in Pretoria, waar ek steeds werksaam is—nou al vir 39 jaar. Ons kon ons kinders grootmaak op ’n plot waar die pastorie en kerk ook geleë was. Wat ’n groot voorreg! Een van ons eerste matriekreünies is op daardie plot gehou.
Om “pastoriemoeder” te wees, was my passie. Ons huis was wawyd oop en daar was altyd plek vir nóg een. Ons het baie met die land se jeug gewerk—400 kinders op ’n slag op treinkampe geneem na Namibië, spyseniering gedoen vir tot 900 gaste, en selfs ’n kerk gebou in Matoppi. Tussendeur het ek aflosposte in skole beman, meestal Afrikaans gegee, en baie aan ons “Kolisile” gedink as ek so voor die klas gestaan het.
Ons is geseën met vyf kinders, tans vier pragtige skoonkinders, en ek is reeds ouma van 10 kleinkinders. In 1996 het die “bubble” van geluk waarin ons geleef het, gebars met die siekte en dood van ons jongste, tweejarige dogtertjie, Elizma. Dit was ’n baie seer pad, maar ook ’n groeipad, veral met die oog op die bediening. Ek het daarna ’n boekie gepubliseer oor ons pad met haar.
Ons kinders is grootgemaak met die leuse “heeltyd speeltyd” en die idioom: “doen lekker dinge mooi en mooi dinge lekker.” My man het hulle tong-in-die-kies geleer: “Mens sê eerder ‘skuus’ as ‘asseblief’.” Mareli, ons dogter, en haar gesin woon in die Seychelle. Ons drie seuns—Reynold, Wilbrie en Bennie—het die 13-episode kykNET-reeks Die Broer Toer geskep. Ek was altyd “Ben se vrou”, maar nou is ek “Bennie se ma”. Hulle woon almal in die mooie Kaap.
Ons gesin is lief vir kamp en 4×4-trippies in Afrika—hoe meer ongerep, hoe beter. Op ’n stadium het ons in ’n vierbladartikel in WegRy (darem nie Huisgenoot nie!) verskyn nadat ons karavaan die brug by Mamili in Botswana gebreek het en ons seuns dit moes herbou om huis toe te kon gaan.
Op 1 Junie 2020, in Covid-tyd, sterf Ben aan ’n aneurisme. Twee maande later word ek met kanker gediagnoseer—operasie, chemo, bestraling, die hele pad. Ek moes my huis soek en ná 34 jaar van die plot af trek, wat eintlik my hele lewe op sy kop gedraai het. In hierdie tyd was Nerine ook ’n steunpilaar.
Die Here is goed vir my. Ek het ’n lekker plekkie in Montanapark, is steeds besig in die gemeente en by liefdadigheidsorganisasies, en klim so dikwels moontlik op ’n vliegtuig na die kinders in die Kaap—en af en toe na die Seychelle.
Al loop ek nou die seer alleenpad, kan ek steeds sê: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval.”
Heerlik om van julle almal te lees!
Hiedie reünie word nie deur Menlopark Hoërskool gereël nie, maar deur n groep ’75 Parkies. Kontak ons by 1975parkiematrieks@gmail.com
Hoofseun/Hoofmeise: Jan Wium en Era (Senekal) Swanepoel Nerine (Le Roux) Ahlers | Japie Bester | Annemarie (Loubser) Boer | Adele (van Biljon) de Klerk Susan (Aucamp) Fourie | Ingrid (Doms) Marais | Ingrid (van Rensburg) Steyn | Stefan Swanepoel Marinda (Du Preez) Venter | Christel (van den Berg) Wood
© 2025 Parkies75 | All Rights Reserved | Last Updated 03/08/2025