Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:38 nm
Ek was nog altyd lief vir tale. Gefassineer deur woorde, strukture en stories. Dit was dus seker geen verrassing dat ek tale gaan swot het nie. Dalk joernalistiek, het ek gereken. Maar toe ek inskryf vir honneurs besluit my ma HOD is ‘n moet vir ingeval my man dalk eendag op Putsonderwater of Pofadder moet werk en ek iets moet kry om myself mee besig te hou. ‘n Heel onskuldige voorstel. Toe ek egter die eerste keer in die HOD-jaar voor ‘n klas staan, het ek besef dis presies waar ek wil wees. Ek is mal oor kinders. Hoërskoolkinders.
En dis die paadjie waarlangs my lewe grotendeels verloop het.
Ek is direk ná universiteit met Johann Ahlers getroud, en ons was so bevoorreg om vir agtien maande in Boston te bly terwyl hy by MIT swot. Dit was vir ons ‘n wonderlike, verrykende tyd wat ons perspektief in daardie stadium op die wêreld en die lewe in die algemeen ongelooflik verbreed het. Hy het hard gewerk, maar ons het elke moontlike oomblik kruis en dwars oor Amerika gereis en alles gesien en ervaar waaraan ons kon dink. Ek het toe ook tyd gehad om my meestersgraad klaar te maak, en tussendeur aan die interessantste sporte deel te neem wat die universiteit aangebied het – sailing for two, ysskaats, noem dit!
Ek het direk na universiteit by Menlopark begin skoolhou en Engels en Frans gegee. Toe is ek Wilgers toe gesekondeer vir Frans (gedurende hierdie tyd is ons Boston toe) totdat ons oudste dogter gebore is. Toe die jonger een van die twee hoërskool toe is, het ek weer permanent by Menlopark begin klasgee – Afrikaans, toe Duits en die laaste klomp jare Frans. Dit is wat ek nou nog doen. En dis vir my steeds heerlik om met die kinders te werk.
Seker een van die lekkerste dinge gedurende hierdie jare was die Franse toere. Ek en ‘n vriendin het elke twee jaar ‘n klomp Franse leerders vir so twee weke Frankryk toe geneem. Natuurlik altyd Parys toe vir so vyf, ses dae, maar dan Normandië toe of Provence of Dordogne of Bretagne toe met ‘n draai deur die Loire-vallei om van die kastele te besoek. Dan het ons gewoonlik die toer met twee dae in die middeleeuse deel van Annecy afgesluit waar ons elke oggend in die bergmeer geswem en sneeu in die Alpe gaan soek het.
Ek het drie jaar gelede amptelik afgetree, maar aangesien die skool te veel Franse leerders vir een onderwyser het, help ek deur vir een graad Frans te gee, wat gewoonlik twee of drie klasse behels. Gelukkig hoef ek net daarvoor skool toe te gaan. Die res van die tyd kuier ek met my vriendinne, reis saam met Johann rond en skryf stories, wat my ander passie in die lewe is.
Ek is baie geseënd wat dit betref. Ek skryf meestal stories vir 11-14 jariges. Die SSS-reeks vir meisies (saam met my vriendin, Alet) was ongelooflik lekker – al die titels bestaan uit drie woorde wat met ‘n S begin (bv Selfone, skelms en sjokolade). Die Rietrotte-reeks vir seuns by Protea is nou-al by nommer 8. Dan is daar ‘n tong-in-die-kies Parys-reeks by Lapa oor ‘n gr 11-meisie wat ‘n Franse hunk in Parys ontmoet, asook ‘n hele paar enkeltitels. Dis regtig groot pret om elke keer nuwe karakters en ‘n nuwe storielyn uit te dink. Dink net: Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit! Of Wian en die Viking-swaard! Nes ek dink ek is nou klaar, spring daar nog ‘n idee iewers uit. En tussenin, so nou en dan, skryf ek liefdesverhale vir Lapa se Romanza-afdeling.
O ja, en ek bring soveel moontlik tyd saam met ons twee kleinkinders deur!
Hiedie reünie word nie deur Menlopark Hoërskool gereël nie, maar deur n groep ’75 Parkies. Kontak ons by 1975parkiematrieks@gmail.com
Hoofseun/Hoofmeise: Jan Wium en Era (Senekal) Swanepoel Nerine (Le Roux) Ahlers | Japie Bester | Annemarie (Loubser) Boer | Adele (van Biljon) de Klerk Susan (Aucamp) Fourie | Ingrid (Doms) Marais | Ingrid (van Rensburg) Steyn | Stefan Swanepoel Marinda (Du Preez) Venter | Christel (van den Berg) Wood
© 2025 Parkies75 | All Rights Reserved | Last Updated 03/08/2025