Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:35 nm

#7 – Marinda (Du Pre) Venter (Plankie)

#7 – Marinda (Du Pre) Venter (Plankie)

Ek is op ‘n plaas in die Devon-distrik gebore, waar my pa met mielies geboer het. Die herinneringe is nog glashelder – veral die naggeluide – die roep van die uil bokant die voordeur, die ritmiese klanke van werkers se dromme in die nag en die gebulk van beeste.

Ek onthou hoe ons doodstil moes wees vir die aandnuus, en die spanning van Sharpeville wat my as tweejarige gemotiveer het om vanaf die trappies die plaaspad dop te hou vir enige moontlike bedreiging in aantog.

In 1961, met Republiekwording, het ek onder my komberstent geluister na my ma en haar vriendinne se kommer oor die toekoms sonder Britse ondersteuning – die griewe oorgehou van die Boere-oorlog vir die oomblik vergete.

Terselfdertyd het ek trots Chappies gekoop by die Griekse kafee – ‘n groot prestasie vir ‘n driejarige wat nou in sente kon tel nadat die verwarrende tiekies en sixpences vervang is met die desimale stelsel.
Weens die onsekerheid van boerdery het ons later dorp toe getrek. My skooljare in Heidelberg het ek met Nerine, Japie B en Tilde gedeel, voordat, byna die hele dorp, na Pretoria verhuis het nadat die weermag die kollege oorgeneem het.

Hoërskool was redelik sieldodend; ek het dit meestal net tot pouse uitgehou, waarna ek eerder by die huis, enige-iets, van The Gulag Archipelago tot Barbara Cartland gelees het. Middae en naweke was heerlik – lekker met die fiets rondgekuier, gaan fliek saam met Griet van langsaan en teruggestap van Kerkplein af, stoksielalleen treinuitstappies geneem na Hillbrow se lekker platewinkel. Ons het ook, darem in groepies, geryloop – eenkeer ‘n geleentheid gekry in ‘n statige Bentley-cabriolet op die N2 in Kaapstad en eenkeer met Susan A se ma. Ek dink Marion was voorbok.

Ons belewenis was ver verwyder van die werklikheid – tot die wiel sterk begin draai het in 1976.

Na graad studies en werk hier en daar, is ek en Dawie 42 jaar gelede getroud, geseënd met drie kinders en ‘n paar kleinkinders. Die rol van ma het my van redelik roekeloos tot erg verantwoordelik verander – niemand verlaat my huis sonder ‘n gelaaide selfoon nie, en geen balkon in my verantwoordelikheidsfeer het spasies groter as 10 cm nie.

Ek het al die jare my man in sy gynae praktyk ondersteun met bestuur, administrasie en wetsvoldoening, en selfs later, as gevolg daarvan, ’n LLB voltooi – genoodsaak vir die beskerming van regte in die tyd van sosiale media.
Na die onlangse aftrede uit die praktyk het ons, ons nou op toerisme begin toespits, by die see en op ons plaas in die Waterberg-biosfeer, waar ons al 30 jaar met wild boer – gefokus op die missie van ekologiese volhoubaarheid en natuurbewaring. Die noue belewenis van die natuur is lieflik – die wild verstaan glad nie dat hulle ‘wild’ is nie – daar word gekaperjol om die vuur, die klipspringers spring op die stoep en die elande, blouwilde beeste en rooibokke slaap om die huis.

My lewenspad voel soos ‘n vol sirkel – plaas begin – plaas geëindig -maar deesdae met ander naggeluide, die onverwagse tjirp van die jagluiperd, die kliek van eland knieë, en die naguiltjies wat roep – good-lord-deliver-us.