Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:31 nm
Ja, ek was die stil, skaam en baie “afwesige” seun op Menlopark Hoërskool. Skool was nie juis my prioriteit in die lewe nie. Ek het skoolgaan vanuit die hoek van ’n klaskamer ervaar, met my eie observasies en gewaarwordinge – meestal ver weg in ’n droomwêreld van my eie. Ongelukkig was ek nie eers in die ry die dag toe “ball sense” uitgedeel is nie. Ek is boonop linkshandig – erg links! Gevolglik was ek nou nie juis die sportiewe leerling nie.
Ek het baie respek vir ons goeie onderwysers en onderwyseresse gehad. Dit was ’n voorreg om deur hulle geleer te word, en ek dink nog tot vandag aan hulle – meestal lankal oorlede. Na matriek het ek B.Comm (Rekeninge Wetenskappe) studeer. Daarna was ek in die weermag as ’n betaal-tiffie. In 1983 het ek Kaap toe getrek en begin werk by SANLAM. Daarna het ek by Oude Meester en later Distillers as ouditeur, kosterekenmeester en stelselsanalis vir vervaardigingsprosesse gewerk.
In 1988 het ek getrou met my enigste blind date ooit – Lynne Pagel. Ons het in 1995 ’n seun, Ruan, verwelkom. In 2001 het ek oorsee in België en Engeland gewerk as ’n IT-konsultant vir twee jaar. In 2002 het ek begin werk vir DIAGEO in Suid-Afrika in IT. In 2006 het ek na Skotland vertrek as IT-konsultant vir Oos- en Wes-Afrika vir DIAGEO. Ek het verskeie rekenaarstelsels geïmplementeer tot en met 2011.
In 2011 het ek ’n tropiese virus opgedoen wat my ernstig siek gemaak het. Ek het ses weke in die hospitaal deurgebring en was op die rand van die dood weens orgaanversaking. Ná ontslag uit die hospitaal het ek in 2012 op 55-jarige ouderdom afgetree weens swak gesondheid. Van 2012 tot 2024 het ek sestien spinale operasies ondergaan en verskeie ander siektetoestande oorleef – insluitend COVID-19.
Ek is nou op ’n baie goeie plek in my lewe en ewig dankbaar vir die verlengde lewe wat ek ontvang het toe my lewe op ’n uiterste laagtepunt was. Nou, op 67-jarige ouderdom, leef ek dag vir dag en geniet my kommunikasie met ou klasmaats, ander vriende en bowenal my familie.
Hiedie reünie word nie deur Menlopark Hoërskool gereël nie, maar deur n groep ’75 Parkies. Kontak ons by 1975parkiematrieks@gmail.com
Hoofseun/Hoofmeise: Jan Wium en Era (Senekal) Swanepoel Nerine (Le Roux) Ahlers | Japie Bester | Annemarie (Loubser) Boer | Adele (van Biljon) de Klerk Susan (Aucamp) Fourie | Ingrid (Doms) Marais | Ingrid (van Rensburg) Steyn | Stefan Swanepoel Marinda (Du Preez) Venter | Christel (van den Berg) Wood
© 2025 Parkies75 | All Rights Reserved | Last Updated 03/08/2025