Last updated on Maart 21st, 2025 at 02:29 nm

Blog - Nuwe stories elke week

Jan Wium

Ek het in 1976 ingenieurswese gaan studeer en is in 1985 met Hermien getroud. Sy kom van Krugersdorp af en was op Hoërskool Monument.

Ek het vir 20 jaar in die industrie gewerk, waartydens ons omtrent elke 4 of 5 jaar iewers anders heen getrek het. Eers het ons oorsee gegaan sodat ek verder kon studeer, daarna na Natal, toe Maleisië, en uiteindelik weer terug Pretoria toe. Danie, ons seun, is in 1992 in Durban gebore, en Elise, ons dogter, amper drie jaar later in Maleisië.

Die volgende 20 jaar het ek by Stellenbosch Universiteit gewerk. Ek sou nooit kon dink dat ek eendag by ’n universiteit sou opeindig nie, maar na die skuif Stellenbosch toe het die kriewelrigheid vir eers bedaar. Ons het baie lekker op Stellenbosch gewoon. Ek het steeds heelwat tennis gespeel, meestal saam met maats wat ek van my junior dae of universiteitsdae af ken. Ek het ook baie fiets gery.

Teen die einde van 2022 moes ek aftree. Sedert Maart 2024 woon ons in Ndola, Zambië, waar ek help om ’n nuwe departement vir siviele ingenieurswese te vestig by Northrise Universiteit. Dit is ’n privaat, Christelike universiteit wat sedert 2004 bestaan. Hier is minder geleenthede vir tennis (!) maar ek ry steeds gereeld fiets.

Deur die jare het Hermien daarin geslaag om musiek en Frans aan te bied, ongeag waar ons gewoon het. Ons is baie dankbaar vir die geleenthede wat ons gehad het om ons talente op verskillende plekke te kon uitleef.